Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Pliskova geskok . . . deur haar suster
Karolina Pliskova (links) wens haar suster, Kristyna, geluk ná laasgenoemde hul wedstryd in Birmingham Woensdag gewen het.Foto: Reuters

Die verskil in tennissukses tussen Tsjeggië se twee Pliskova-sussies, Karolina en Kristyna, kan maklik gekwantifiseer word. In prysgeld: $15 miljoen. In aantal titels: 12. In wêreldranglysposisies: 109.

En tog was dit die meer geroemde Karolina (die wêreld se nr. 3-speler) wat op haar baadjie gekry het toe die tweeling mekaar Woensdagaand in Birmingham gepak het. Kristyna, haar kamermaat vir die week en jarelange oefenmaat, was in die tweede ronde van die Nature Valley Classic-toernooi haar suster se tier met 6-2, 3-6, 7-6(7).

Die statistieke vertel nooit die volle verhaal nie, maar Kristyna sou woedend vir haarself gewees het as sy dié wedstryd verloor het, nadat sy driekwart van die breekpunte op haar afslaan afgeweer het en ’n yslike 24 kishoue geslaan het, teenoor haar suster se 9.

Karolina het voor die wedstryd reeds uitgestippel hoe min lus sy was om met haar suster swaarde te kruis.

Ons het elke dag balle geslaan en saam opgewarm. Ons deel baie dinge en is altyd op die foon (met mekaar) wanneer ons in verskillende toernooie speel.
Karolina Pliskova

“Dis baie moeilik om teen 100% mee te ding wanneer jy nie regtig seker is jy wil jou suster klop nie,” het Karolina volgens Reuters gesê. “Ons kommunikeer die heeltyd met mekaar en deel hier ’n kamer. Ons het elke dag balle geslaan en saam opgewarm. Ons deel baie dinge en is altyd op die foon (met mekaar) wanneer ons in verskillende toernooie speel.

“Dis familie, so jy wil nie teen haar te staan kom nie . . . maar ek wil haar steeds klop.”

Dat sy opdraand sou loop om Kristyna (wat twee minute ouer as sy is) te klop, was reeds glashelder in ’n eerste stel waarin die minder geroemde Pliskova die meeste van die reëls gemaak het. Karolina het teruggeslaan deur die tweede stel te wen, maar het vroeg in die derde haar afslaan verloor en moes diep delf om sake later weer gelyk te maak en ’n valbylpot af te dwing.

Dít het haar nederlaag egter net uitgestel. In die valbylpot het die duo mekaar vir 16 punte gas gegee, maar uiteindelik was Kristyna sterker op die groot punte.

Woensdag se Birmingham-kragmeting was die tweeling se eerste in ses jaar – ’n tydperk waarin Karolina van krag tot krag gegaan het en 13 WTA-titels ingepalm het, teenoor die enkele kroon wat Kristyna gewen het. Waar Karolina haar sedert 2016 in die toptien op die wêreldranglys gevestig het, kon Kristyna nog nie hoër as 35ste klim nie.

Andy Murray

 Intussen sal Andy Murray Donderdag by die Queens-toernooi in Londen sy langverwagte terugkeer tot die baan maak, nadat ’n heupoperasie hom sedert vroeg in die jaar op die kantlyn gehou het.

Murray sal nie enkelspel speel nie, maar is in die dubbelspel ingeskryf saam met die Spanjaard Feliciano Lopez. Hulle was veronderstel om Dinsdag teen die eerste gekeurdes, Juan Sebastián Cabal en Jean-Julien Rojer, te staan te kom, maar dit was weens reën nie moontlik nie.

Lopez was Woensdag in aksie in die enkelspel – hy het Márton Fucsovics met 6-7(4), 6-3, 6-4 verslaan – sodat sy dubbelspelwedstryd uitgestel moes word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.