Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Pool sool Roger Federer uit Wimbledon
Roger Federer erken die applous van die skare met ’n handeklap van sy eie ná hy Woensdag in skoon stelle deur die Pool Hubert Hurkacz verslaan is. Foto: Reuters

Toe Roger Federer Woensdagmiddag na die agterbaan stap om af te slaan vir die laaste pot van sy wedstryd teen die Pool Hubert Hurkacz, het elke toeskouer langs Wimbledon se hoofbaan opgestaan om vir hom hande te klap.

Nie omdat hy op die punt gestaan het om nóg ’n jonger man Wimbledon-gras te laat eet nie – maar omdat almal gewonder het of dit die laaste keer sou wees wat hulle die Switserse legende daar sien afslaan.

Nog ’n Wimbledon-triomf is Federer nie vanjaar beskore nie, nadat die 24-jarige Hurkacz hom in die kwarteindronde van die grasbaan-Slam in skoon stelle oorrompel het – en in die laaste stel nie eens ’n pot afgestaan het nie.

Twee dae ná die Pool homself met ’n vyfstel-sege oor Daniil Medvedev uitgesonder het as ’n speler om dop te hou, het Hurkacz Woensdag met 6-3, 7-6(4), 6-0 oor Federer gerol.

Daar was tye wat die hoofbaan trakteer is op Federer op sy dansende beste, veral toe hy vroeg in die tweede stel tot ’n voorsprong van 3-0 gestorm het. ’n Maand voor sy 40ste verjaardag is die Switser steeds in staat daartoe om teenstanders in hul spore te stuit met grasieuse handrughoue en gloeiende voorarmhoue. Teen Hurkacz het dít egter nie gereeld genoeg gekom om die jonger man se eie groot wapens – krag, kreatiwiteit en sakke vol vreesloosheid – vir goed te neutraliseer nie.

Die applous vir Federer aan weerskante van daardie laaste pot is ’n aanduiding dat almal wat hom sien speel het gewonder het of hulle hom weer in sy eertydse graskoninkryk in aksie sal sien. Die veteraan is vir meer as ’n jaar lamgelê deur twee knieoperasies in 2020 en het verlede maand ná ’n paar rondes aan die Franse Ope onttrek om sy liggaam te spaar vir grasbaantennis. Vir hoe lank hy nog teen Vader Tyd en die eise van tennis op sy lyf kan stry, raak ’n al dringender vraag.

Nietemin verdien hy krediet daarvoor dat hy die kwarteindronde kon haal, gegewe hoe min tennis hy vanjaar gespeel het. Sy honger vir meer sukses is beslis nog nie uitgedoof nie.

Wat die man teen wie hy Woensdag afgetjop het betref, is die gesprek natuurlik drasties anders. Hurkacz is nie ’n speler wie se naam aan die meeste deeltydse tenniskykers bekend is nie, maar dit maak nie van hom ’n hierjy-speler nie. Hy is 16de op die wêreldranglys, met vier ATP-titels agter sy naam – insluitend die Meesterskroon wat hy vroeër vanjaar in Miami gewen het.

Die Pool het ná die wedstryd erken hy het nie beplan om só maklik met Federer af te reken nie.

Hubert Hurkacz bal sy vuiste uit pure plesier ná sy skoonstel-sege oor Roger Federer. Foto: Reuters

“Nee, waarskynlik nie,” het hy geglimlag toe hy daardie vraag gevra is. “Al wat ek kan sê, is dat dit super-spesiaal vir my is dat ek op hierdie spesiale baan kon speel teen Roger. Vandat ek ’n kind was, was dit ’n droom om teen hom te speel en nou het dit waar geword.”

Hurkacz is net die tweede Poolse man ooit wat die halfeindronde van Wimbledon haal, ná Jerzy Janowicz in 2013. Nou kan Hurkacz daarvan droom om sy land se eerste man in die eindstryd te word – hoewel hy daarvoor oor ’n hoë hekkie sal moet kom.

Italië se Matteo Berretini wag vir die Pool in die halfeind nadat hy die opwindende Felix Auger-Aliassime van Kanada met 6-3, 7-5, 5-7, 6-3 geseëvier.

• Die ander halfeindstryd sal beslis word deur die wêreld se voorste speler, Novak Djokovic, en nóg ’n opwindende jong Kanadees, Denis Shapovalov.

Djokovic het Woensdag die 41ste Grand Slam-halfeindstryd van sy glorieryke loopbaan gehaal deur Hongarye se Marton Fucsovics met 6-3, 6-4, 6-4 uit te knikker.

Die Serwiër was in die eerste stel in ’n japtrap voor met 5-0, voor Fucsovics begin terugveg het. Die Hongaar het sy meer geroemde teenstander daarna in die tweede stel goed laat sweet, maar steeds nie naastenby genoeg skietgoed gehad om die verdedigende kampioen te ontsenu nie.

Shapovalov het ’n moeiliker dag op kantoor gehad as Djokovic. Sy wedstryd teen die Rus Karen Kachanov het 3 uur en 26 minute geduur en vyf stelle was nodig om ’n wenner te bepaal. Die Kanadees het beter begin, voor hy Kachanov toegelaat het om die wedstryd te dikteer. Dit was eers ná hy die derde stel verloor het, wat die 22-jarige vuur in sy pens gekry het, waarmee hy sy Russiese teenstander in die volgende twee stelle heeltemal oorweldig het.

Die eindtelling was 6-4, 3-6, 5-7, 6-1, 6-4.

Meer oor:  Wimbledon  |  Tennis  |  Roger Federer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.