
Hubert Hurkacz spog met sy trofee in die Delray Beach-ope in Florida. Foto: Getty Images
Hubert Hurkacz van Pole het sy tweede ATP-titel in drie jaar gewen toe hy Sebastian Korda van Amerika met 6-3, 6-3 in die eindstryd van die Delray Beach-ope geklop het.
Toe hy in 2019 die Winston-Salem-ope gewen het, was hy maar die tweede Poolse man in die ope-era wat met ’n ATP-titel kon spog.
Die 23-jarige Hurkacz kan danksy dié oorwinning tot 29ste op die jongste wêreldranglys klim.
Hy het gedurende die toernooi nie teen een top100-speler gespeel nie en ook nie ’n enkele stel verloor nie.
Die 20-jarige Korda het ’n heelwat moeiliker opmars na sy eerste ATP-eindstryd gehad. Hy het vir Tommy Paul, John Isner en Cameron Norrie geskok deur die eerste keer ’n finalis te wees.
Dié seun van Petr Korda het vroeg met 3-1 in die eerste stel voorgeloop. Hy het volgens tennis.com moeilik beweeg en vroeg in die tweede stel behandeling vir sy linkerknie ontvang. – Sportredaksie