Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Rafa bra skrikkerig vir Juan Martin

Die Spanjaard Rafael Nadal en Argentinië se Juan Martin del Potro het mekaar die afgelope 12 maande in drie van die vier Grand Slam-tennistoernooie gepak – en Del Potro het elke keer aan die kortste ent getrek.

Wanneer die duo mekaar dus Vrydagaand weer die stryd aansê, in die halfeindronde van die Amerikaanse Ope, gaan die Spanjaard met ’n stewige dosis selfvertroue én die gunsteling-etiket om sy nek uitstap.

Kan dié spiertier gestuit word? Rafael Nadal het weliswaar Dinsdag in die kwarteindronde gehik en stik teen Dominic Thiem, maar sake tog beredder om sy aanslag op ’n vierde Amerikaanse Ope-titel lewend te hou. Foto: Getty Images
Juan Martin del Potro. Foto: Getty Images

Maar tog weier Nadal om die vel te verkoop voordat die beer geskiet is. By Roland Garros het hy Del Potro maklik in drie stelle geklop, maar ’n maand later by Wimbledon het hy vyf stelle nodig gehad om koning te kraai. Hy is nie van plan om die Argentyn te onderskat nie.

“Dit gaan baie taai wees,” het Nadal volgens die Metro gesê. “Juan Martin is ’n wonderlike speler. Hy is ’n wonderlike speler op gras . . . wel, hy is oral ’n wonderlike speler. Maar die uitdaging wat wag teen hom op ’n harde baan is baie groter as op klei, soos by Roland Garros.

“Ons ken mekaar baie goed en ek weet hy speel goed. Ek weet ek gaan op my heel beste moet wees as ek enige kans op sukses wil hê.”

Nadal se heel beste is natuurlik haas onoorkombaar en was ook Dinsdag nodig terwyl hy die opwindende jong Dominic Thiem in ’n klipharde vyfstel-kwarteindstryd wat enige kant toe kon gaan, geklop het.

Thiem en Nadal was vir vier ure en 49 minute op die baan, en dit ly min twyfel dat die Spanjaard se bene minder vars sal wees as Del Potro s’n.

Die Argentyn het immers ’n veel makliker kwarteindstryd gehad, toe hy John Isner in vier stelle verslaan het sonder om selfs een keer deur ’n breekpunt in die gesig gestaar te word.

Die 29-jarige Del Potro het in 2009 sy eerste (en steeds enigste) Grand Slam-titel in New York gewen, voordat hy vir jare deur die beseringspook geteister is.

Met sy lyf die afgelope jaar gesond, sien die wêreld uiteindelik waartoe die Argentyn in staat is met momentum in sy loopbaan. Hy mag maar droom oor ’n sege oor Nadal.

“Ek weet nie of ek my beste tennis tot dusver speel nie,” het Del Potro volgens Sports Illustrated gesê ná sy sege oor Isner. “Maar ek voel goed.”

Novak Djokovic. Foto: Getty Images
Kei Nishikori. Foto: Getty Images

* Die ander halfeindstryd in die mans-enkelspel sal Donderdag beslis word tussen Novak Djokovic en Kei Nishikori.

Geen ander speler het tans soveel wind in sy blaaie soos Djokovic nie. Die Serwiër het twee van sy laaste drie toernooie gewen – en dit was gróót titels in Wimbledon en Cincinnati – en in die proses afgereken met groot name soos Roger Federer, Marin Cilic, Milos Raonic, Grigor Dimitrov, Kevin Anderson, Nadal en Nishikori.

By Flushing Meadows het Djokovic oor die jare verstommende sukses beleef. Hy het in 2006 laas voor die halfeindronde die aftog geblaas en in sewe van die laaste 11 eindstryde gespeel (met seges in twee).

Belangriker egter as sy geskiedenis in New York is sy uitmuntende onlangse spelpeil. Tussen Julie 2016 en Junie 2018 het hy effens van stryk af geraak en daarna het ’n ernstige elmboogbesering hom teen die wêreldranglys af sien tuimel. Nou is hy egter terug in die topses en speel hy met dieselfde aggressie, selfversekerdheid en bestendigheid wat hom vir jare op die kruin van die golf gehou het.

Nishikori is self in ’n terugvegjaar, nadat hy in die laaste vyf maande van 2017 nie gespeel het nie en 2018 in twee Challenger-toernooie begin het.

Die Japanner het in 2014 in die Amerikaanse Ope-eindstryd teen Cilic verloor, maar daardie nederlaag Woensdag in ’n marathon-kwarteind van vyf stelle gewreek om aan die wêreld te wys hy is ook weer terug op sy beste.

Of dit genoeg gaan wees teen Djokovic se beste is natuurlik ’n ope vraag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.