Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Rafa buig die knie voor Thiem in Melbourne

Nog ’n Australiese Ope, nog ’n hartseer einde vir Rafael Nadal.

Die wêreld se voorste speler kan maar sy tasse begin pak vir sy vertoonwedstryd in Suid-Afrika, nadat hy hom Woensdag in die kwarteindronde van die Australiese Ope vasgeloop het teen ’n gefokusde, vegtende Dominic Thiem.

Wéér hartseer in Melbourne . . . Rafael Nadal is in vier stelle deur Dominic Thiem uit die Australiese Ope geboender. Foto: Reuters

Die jong Oostenryker was baas met 7-6 (7/3), 7-6 (7/4), 4-6, 7-6 (8/6) in ’n wedstryd waarin hy deurgaans by ’n eenvoudige resep gehou het: Wees net dapper.

Thiem het in sy loopbaan al vier keer met Nadal afgereken, maar kon hom nog nooit in die Grand Slams se beste-van-vyf-stelle ore aansit nie. Hy het by 2018 se Amerikaanse Ope bitter naby gekom, met ’n valbyl-nederlaag van 5-7 in die vyfde stel al wat tussen hom en wen gestaan het. Dit was natuurlik ’n bitter pil om te sluk, maar ook een wat hom ’n paar lesse geleer het.

Die belangrikste daarvan was dat dit geen doel dien om versigtig te speel teen Nadal nie. Die Spanjaard is een van die (indien nie dié) aggressiefste spelers in manstennis en teer op enige tekens van swakheid.

Vir tekens van swakheid moes Nadal Woensdag hard soek – sonder sukses. Hy het die 26-jarige Oostenryker se energie probeer tap met voorarmhoue na alle kante van die baan, net om terugkerende bomme verby hom te sien swiep. Hy het Thiem met die handrug probeer dwing om foute te maak, maar is eerder beantwoord met onbereikbare wenhoue.

In sowel die eerste as tweede stelle het Nadal eerste deurgebreek, net om sy eie afslaan en daarna ook die valbylpot te verloor. Ná ’n derde stel waarin hy uiteindelik meer soos die Nadal wat ons ken begin lyk het, het die Spanjaard in die vierde uit pure frustrasie begin foute inryg, met veral sy voorarmhoue beroerd.

Maar daar bestaan nie iets soos maklik omrol in die Nadal-benadering nie. Toe dit die heel meeste saakmaak, het hy homself reggeruk en die Oostenryker herinner met wie hy te doen het.

Thiem het op 5-4 afgeslaan vir ’n welverdiende oorwinning, maar hom vasgeloop teen hernieude ywer en veggees aan die ander kant van die net. Meteens was Nadal se visier weer reg ingestel en was Thiem die een wat deur onsekerheid en swak besluitneming gepootjie is.

In tennis verander die getye egter dikwels vinnig. Die duo is die valbylpot in en dit moes in albei se agterkoppe wees dat Thiem albei die wedstryd se eerstes gewen het.

So sou dit ook die derde keer wees, met die Nadal-voorarm ’n bron van baie frustrasie en min sukses.

Nadal se vertrek beteken dat hy vir ’n tiende jaar in ’n ry nie sy hande sal kry op die Australiese Ope-trofee nie. Op dié kleinood is sy naam ’n enkele keer gegraveer, in 2009. Dis die enigste Slam wat hy minder as twee keer kon wen.

Dominic Thiem het ’n aura van ongeloof gehad ná hy Rafael Nadal se stert in Melbourne geknoop het. Foto: Reuters

Die vyfde gekeurde Thiem kon nog nooit eens realistiese drome koester van sy vingerafdrukke op daardie trofee nie, met sy vorige beste by die Australiese Ope die vierde ronde. Nou wag ’n halfeindstryd teen die Duitser Alexander Zverev, met wie hy in ses van hul vorige agt kragmetings baas was. Miskien kan hy maar begin droom.

Zverev sal egter glad nie ’n maklike neut wees om te kraak nie.

Dis ook dié 22-jarige se eerste besoek aan die Melbourne-halfeind (inderwaarheid enige Slam-halfeind) en welverdiende beloning vir ’n uitmuntende vertoning in sy kwarteindstryd Woensdag teen Stan Wawrinka.

Die Switser het aanvanklik al die reëls gemaak en die eerste stel binne net 24 minute met 6-1 gewen, maar toe heeltemal stoom verloor.

Die jonger Duitser het antwoorde vir sy afslaan-probleme (’n oorblyfsel van 2019) gevind en daarmee saam Wawrinka se veggees begin afbreek. Met die Zverev-dien so te sê onhanteerbaar, het meer foute van Wawrinka se raket begin vloei. In die laaste drie stelle kon hy net nege potte wen om met 1-6, 6-3, 6-4, 6-2 te verloor.

Met ’n eerste major-halfeind uiteindelik ’n realiteit, het Zverev sy belofte van die begin van die toernooi, dat hy sy volle prysgeld van vier miljoen Australiese dollar (sowat R40 mijoen) aan die veldbrand-herstelfonds sou skenk, herhaal.

“Ek gaan dit doen, dis nie ’n probleem vir my nie,” het hy volgens die ATP-reeks se amptelike webblad gesê. “Ek glo met daardie geld kan ek iets positief begin. Dis wat die meeste vir my saakmaak, nie wat iemand anders daarvan dink nie.

“My ouers het grootgeword in die (voormalige) Sowjet-unie. My pa sou geld buite die land maak, maar dit alles weggee wanneer hy terug in die land kom. Jy sou dink, noudat hulle geld het, sou hulle alles vir hulself wou hou. Maar hulle het altyd gesê geld is iets wat die wêreld moet verander. Nie iets om in ’n bankrekening te sit en niks mee te doen nie.”

Met ’n lid van die jonger generasie dié keer te sterk vir hom, is Nadal op pad na Suid-Afrika, waar hy aanstaande week in Kaapstad ’n vertoonwedstryd teen Roger Federer sal speel.

Meer oor:  Dominic Thiem  |  Rafael Nadal  |  Australiese Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.