Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Rafa delf diep teen Aussie-kanonpoot

Dit gebeur bittermin dat ’n tennisspeler ’n skoonstel-nederlaag ly waaroor hy eendag stories vir sy kleinkinders kan vertel.

Maar die 21-jarige Alexei Popyrin het Dinsdag presies so ’n wedstryd gehad. Eendag kan hy vir sy nasate vertel van die dag waarop hy die Koning van Klei emmersvol laat sweet het.

Rafael Nadal se strewe na ’n veertiende Franse Ope-titel het met ’n skoonstel-sege begin. Foto: Reuters

Die Spanjaard Rafael Nadal het wel sy veldtog om ’n veertiende Franse Ope-kroon begin met ’n sege van 6-3, 6-2, 7-6(3), maar anders as wat die telling aandui, was dit alsbehalwe eenrigtingverkeer.

Die jong Aussie het Nadal uit die staanspoor verras met die krag agter sy houe en die kampioen in die 41 minute van die eerste stel net een kans gegun om deur te breek.

Dit was egter – soos so dikwels op klei – die enigste geleentheid wat die Spanjaard nodig gehad het om sy stempel af te druk.

Daarna het ’n tweede stel gevolg waarin Nadal meer gereeld die kitaar geslaan het, maar hy kon steeds nie Popyrin se moed breek nie.

Die jongeling was steeds kop omhoog toe die derde stel begin en sy knaende geklop aan die deur is uiteindelik beantwoord toe hy in die sesde pot deurgebreek het deur die druk op Nadal se skouers te laai.

Daarna het hy sterk gestaan vir die volgende drie potte en ’n mens het begin vermoed die derde stel is so te sê syne.

Maar daar is ’n rede waarom Roland Garros as Nadal se persoonlike koninkryk beskryf word.

Alexei Popyrin het Rafael Nadal Dinsdag verras met sy krag en spoed, maar steeds nie genoeg daarvan gehad om die Koning van Klei te verras nie. Foto: Reuters

Hy is nêrens beter daarmee om homself uit diep gate te grou nie en het sake Dinsdag omgekeer deur alles wat Popyrin na hom gegooi het met meer vuur te beantwoord.

Die Australiër verdien hope krediet daarvoor dat hy nooit ophou veg het nie en tot in die valbylpot sy vernuf en selfvertroue uitgestal het.

Maar teen Nadal het hy nie genoeg daarvan gehad nie – ons praat immers nou van ’n man wat so tuis op Roland Garros is dat hy Dinsdag sy 101ste sege in 103 wedstryde daar behaal het.

“Ek is heel tevrede met hoe ek gespeel het, dit was beslis nie ’n maklike wedstryd nie,” het Nadal ná die kragmeting in sy TV-onderhoud gesê.

“Die begin van die wedstryd was taai. Sy afslane is yslik, hy is jonk, vinnig en wanneer hy die bal slaan probeer hy dit met soveel krag as moontlik doen.

“Ek weet nie hoe ek die eerste stel gewen het nie, maar ek is baie bly ek het ’n manier gevind.”

• Die opwindende Rus Andrey Rublev het Dinsdag niks gehad om oor bly te wees nie, ná sy Franse Ope net 3 uur en 46 minute geduur het.

Rublev het die kwarteindronde van al drie die laaste Grand Slam-toernooie (waaronder verlede jaar se Franse Ope) gehaal en die verwagting was dat hy dié keer weer tot die tweede week sou staande bly.

Maar iemand het vergeet om daardie memo aan die Duitser Jan-Lennard Struff aan te stuur.

Hy het in die eerste ronde vir die eerste keer in sy loopbaan ’n top10-speler op die major-verhoog verslaan, met ’n swaarverdiende wentelling van 6-3, 7-6(6), 4-6, 3-6, 6-4.

Meer oor:  Tennis  |  Franse Ope  |  Rafael Nadal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.