Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Match in Africa: Rafa, dit lyk dan net soos klei!
Roger Federer is opgewonde om vir ’n paar dae in die Moederstad te wees. Foto: Jaco Marais

Dit lyk soos Rafael Nadal se geliefde rooi klei, maar dit is eintlik ’n harde baan waarop Roger Federer kan baljaar.

Dít is die tennisbaan wat in die Kaapstad-stadion gelê is vir Vrydag se Match in Africa-liefdadigheidstryd tussen dié twee tennislegendes.

Die ikoniese stadion in die Moederstad het al gasheer gespeel vir Wêreldbeker-sokkerwedstryde, rugbykragmetings, sewestoernooie, musiekkonserte en nou is dit ’n tennisarena. Meer as 48 000 toeskouers word verwag.

Federer-hulle sê mekaar die stryd aan op wat bekend staan as ’n “rebound ace”-baan.

Dit is ’n harde baan met verskillende buffers wat bestaan uit polisintetiese rubber, skuim, veselglas en ander materiale bo-op ’n betonblad.

Dit is ’n sintetiese baan, wat amper die gevoel van ’n astro gee. Dit is ’n harde baan met verskillende buffers wat bestaan uit polisintetiese rubber, skuim, veselglas en ander materiale bo-op ’n betonblad.

Die beplanning vir die lê van dié baan word glo al meer as vier jaar gedoen.

Daar was vandeesweek groot geheimhouding oor hoe die baan gaan lyk en die stadion vir byna 50 000 toeskouers ingerig gaan word.

Federer het Donderdag die sluier effe gelig toe hy ’n video op Twitter geplaas het.

Dié Switserse maestro en die Spaanse matador was oor die jare heen fel mededingers op die baan, wat top-hoogtepunte verskaf het. Op onderskeidelik 38 en 33 jaar is albei dalk nou in die skadukant van hul loopbane.

Suid-Afrikaanse toeskouers sal nie omgee dat hulle mekaar op tuisbodem in ’n sogenaamde vertoonwedstryd, pleks van ’n ATP-toernooi, pak nie.

Hul loopbaantitels en Grand Slam-prestasies is alombekend.

MELBOURNE, AUSTRALIA - JANUARY 23: Rafael Nadal of
Rafael Nadal. Foto: Getty

Nadal het verlede week die kwarteindronde van die Australiese Ope gehaal en Federer die halfeindronde.

Vrydag se Match in Africa is die sesde in die reeks en die eerste nóg wat in Afrika gespeel word.

Dit het aanvanklik as die “Match for Africa” bekend gestaan. Die eerste wedstryd is op 21 Desember 2010 in Zürich, Switserland, tussen Federer en Nadal beslis.

Die twee het mekaar enkele dae later in Madrid gepak – dié keer ten bate van die Spanjaard se stigting.

Federer het daarna in 2014 in Zürich teen Stanislas Wawrinka gespeel en in April 2017 in dieselfde stad teen Andy Murray. Later in April is die Match for Africa 4 in Seattle, Washington, beslis met die Amerikaner John Isner as Federer se teenstander.

Maart 2018 se byeenkoms het bekend gestaan as Match for Africa 5: Silicon Valley en is in San Jose, Kalifornië, beslis met die Amerikaner Jack Sock aan die oorkant van die net.

Federer het Woensdag gesê hy is bly om terug te wees in Suid-Afrika. Omdat sy ma in Johannesburg gebore is, het hy as kind dikwels hier vakansie gehou, maar nog nie ’n mededingende wedstryd gespeel nie.

“Ek kan nie glo die dag is eindelik hier nie. Ek dink dit gaan ’n emosionele dag wees,” het Federer gesê.

Ek en Rafa probeer al twee jaar op ’n datum ooreenkom. Ek kan nie wag om hom hier te verwelkom nie. Dit is lekker om op ’n ander plek te speel as in die gewone stede.
Roger Federer

“Ek en Rafa probeer al twee jaar op ’n datum ooreenkom. Ek kan nie wag om hom hier te verwelkom nie.

“Dit is lekker om op ’n ander plek te speel as in die gewone stede waar ons mekaar dikwels sien of teen mekaar speel.”

Nadal was Donderdag nog op pad na die Moederstad nadat hy ’n tak van sy akademie in Koeweit amptelik geopen het.

* Daar wag Vrydag ’n lang middag en aand op die tennissterre.

Hulle het vroegmiddag informele speelsessies met plaaslike kinders op die Groenpunt-atletiekbaan, waarna hulle ’n ligte oefensessie in die stadion sal hê.

Die twee sal daarna langs die baan kortliks mediavrae beantwoord voordat hulle sal regmaak vir die aand se aksie.

Die dubbelswedstryd tussen Federer en Bill Gates en Nadal en Trevor Noah is om 19:30 met die hoofwedstryd om 20:30.

’n Groot groep oorsese joernaliste en tenniskorrespondente is hier om verslag te doen en die TV-dekking is wêreldwyd op verskeie platforms.

* TV: vanaf 18:30 op SS 1. (Volg ook Netwerk24 se regstreekse blog).

Meer oor:  Roger Federer  |  Rafael Nadal  |  Spanje  |  Kaapstad  |  Switserland  |  Tennis  |  Vertoonwedstryd  |  Federer Teen Nadal  |  Match In Africa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.