Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Rafa en Gasol samel geld in vir Spanjaarde

Die Spaanse sportsterre Rafael Nadal en Pau Gasol gaan geld insamel om die mense wat die ergste deur Covid-19 geraak is, finansieel by te staan.

Die tennismaestro en NBA-ster het Donderdag gesê hulle wil iets teruggee aan die mense wat hulle ondersteun en gehelp het om groot sukses in die internasionale sportarena te behaal.

Die Spaanse tennismaestro Rafael Nadal. Foto: Getty Images

Die twee beoog om 11 miljoen euro in te samel. Spanje is erg getref deur die virus en het tot op hede die naasmeeste sterftes weens Covid-19.

“Die Spaanse mense het ons nooit as atlete in die steek gelaat nie. Ons het sukses behaal danksy hulle,” het Nadal, 19-malige Grand Slam-wenner, gesê.

“Ons kan Spanje nie nou, in die tyd van nood, in die steek laat nie,” het die wêreld se naasbeste tennisspeler bygevoeg.

Nadal sê hy het met idee vir die hulpfonds vorendag gekom en dadelik sy vriend Gasol gebel om te help met die insameling.

Meer as 4 000 Spanjaarde is reeds weens Covid-19 dood.

MILWAUKEE, WISCONSIN - APRIL 06:  Pau Gasol #17 of
Pau Gasol. Foto: Getty Images

“Spaanse atlete wou nog altyd die nasie trots maak. Vandag wil ons dit ’n stappie verder neem,” het Gasol, wat basketbal vir die Milwaukee Bucks speel en ’n tweemalige NBA-kampioen is, gesê.

“Ons beplan om 11 miljoen euro in te samel en op dié manier 1,34 miljoen landsburgers te help, daardie mense wat die hardste deur die koronavirus getref is,” het die 39-jarige senterbaanspeler gesê.

“Ek en Rafa het reeds bydraes tot die fonds gemaak en ek hoop ander Spaanse atlete sal ons voorbeeld volg,” het hy bygevoeg.

Onder die atlete wat eerste op die versoek gereageer het, was die doelwagter van Spanje se Wêreldbeker-kampioenspan, Iker Casillas.

“Dis tyd vir Spaanse sportlui om iets terug te ploeg. Dis ons verantwoordelikheid en dis hoekom ek ’n bydrae gemaak het,” het Casillas gesê.

Die breier van die Sevilla-sokkerspan, Julen Lopetegui, het ook sy steun vir die projek gegee.

“Ek hoop alle atlete steun die plan, selfs al is dit met ’n klein bydrae. Ons kan só iets teruggee om dankie te sê vir al die ondersteuning wat ons van ons landsburgers en die Spaanse regering gekry het,” aldus Lopetegui. – Sportredaksie; supersport.com

Meer oor:  Spanje  |  Covid-19  |  Rafael Nadal  |  Geldinsameling  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.