Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Rafa-hulle troef hardekwas-tieners

Italië se twee talentvolle tennistieners Lorenzo Musetti en Jannik Sinner het albei Maandag in Parys soos Ferrari’s in die Franse Ope weggespring.

Net jammer hulle het te staan gekom teen die twee mees gevreesde spelers in die mansloting. En uiteindelik was dit Novak Djokovic en Rafael Nadal wat meer brul in die tenk gehad het.

Rafael NadalFoto: Getty Images

Nadal, die 13-malige kampioen op Roland Garros, het sy 15de kwarteindstryd gehaal deur Sinner indrukwekkend met 7-5, 6-3, 6-0 af te ransel.

Die Spanjaard het vinnig begin en albei die wedstryd se eerste potte gewen, maar hom daarna vasgeloop teen ’n tiener op ’n missie. Sinner (19) het al vier die volgende potte gewen en gerat gelyk om die eerste stel te wen.

Die 35-jarige Nadal laat hom egter nie maklik op klei onderkry nie, en het gou met sy meedoënlose houespel die momentum teruggeneem. Hy het die laaste vier potte van die eerste stel gewen om dit met 7-5 te beklink.

Van daar af het hy onoorwinlik gelyk en agt potte agtereenvolgens gewen.

Sinner het op 0-4 in die tweede stel weer op dreef gekom om dit 3-4 te maak. Hy kon egter nie daarop voortbou nie met Nadal wat weer tot ’n hoër rat oorgeskakel het.

Die Spanjaard het gou voorgeloop en korte mette van Sinner in die derde stel gemaak om sy 35ste agtereenvolgende stel op Roland Garros sedert 2019 te wen.

Nadal speel in die kwarteindstryd teen die tiende gekeurde Diego Schwartzman van Argentinië, wat verlede jaar sy teenstander in die halfeind was.

Die wêreld se voorste speler, Djokovic van Serwië, het vroeër vir die vyfde keer in sy loopbaan teruggeveg om te seëvier ná hy die eerste twee stelle verloor het.

Novak DjokovicFoto: Getty Images

Die 19-jarige Musetti het hom aan die begin behoorlik laat sweet en fantastiese tennis opgedis. Hy was die beter speler in die eerste twee stelle en het Djokovic ’n paar keer platpoot gelaat.

Die Serwiër was veral in dié stelle se valbylpotte ’n skaduwee van sy gewone oorheersende self.

Die gety het egter in die derde stel met mening gedraai. Ná Djokovic behoorlik afgetjop het in die tweede valbylpot is hy kleedkamer toe, waar hy skynbaar hard met homself gepraat het. Hy het 16 van die laaste 17 potte gewen terwyl Musetti al swaarder getrek het.

Die 19-jarige Italianer het uiteindelik in die beslissende stel handdoek ingegooi. Dit het gelyk of hy las van ’n buikbesering gehad het.

Musetti, wat in sy eerste Grand Slam-toernooi gespeel het, het in die eerste twee stelle 44 en 41 punte onderskeidelik gewen, maar kon toe daarna net 17 verdere punte wen.

Die eerste twee stelle was 75 en 66 minute lank onderskeidelik waarna Djokovic die derde in net 24 minute en die vierde in net 17 beklink het.

Djokovic bevind hom nou vir ’n rekord 12de agtereenvolgende jaar in die laaste agt. Dit sal sy 15de kwarteindstryd op Roland Garros wees.

Hy het op koers gebly om die eerste man in meer as 50 jaar te word om al vier Grand Slams twee keer te wen.

Djokovic kom Woensdag teen nóg ’n Italianer, die negende gekeurde Matteo Berrettini, te staan.

Schwartzman het vroeër met sy sege van 7-6(9), 6-4, 7-5 oor Duitsland se Jan-Lennard Struff die derde keer die kwarteindstryd op Roland Garros gehaal. Dit is sy vyfde Grand Slam-kwarteind. – Sportredaksie, atptour.com, rolandgarros.com.

Meer oor:  Novak Djokovic  |  Tennis  |  Franse Ope  |  Rafael Nadal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.