Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Rafa oorkom dinamiese Diego
Rafael Nadal gooi sy kop verheug agteroor nadat hy ’n taai wedstryd teen Diego Schwartzman gewen het. Foto: Reuters

’n Mens speel nie sommer kat en muis met Rafael Nadal by Roland Garros nie. Want as jy daardie speletjie nie kan deursien nie, sal die “koning van klei” nie huiwer om jou vermetelheid swaar te bestraf nie.

Dit het die Argentyn Diego Schwartzman Woensdag aan sy eie bas gevoel, toe hy Nadal vir ’n goeie uur laat sweet het op die Philippe Chatrier-baan, net om hard terug aarde toe geruk te word.

Nadal was, vir die rekord, in hul kwarteindstryd in die Franse Ope baas met 6-3, 4-6, 6-4, 6-0. Maar soos so dikwels, vertel die telling nie die volle verhaal nie.

Dit dra nie oor dat Schwartzman reeds in die eerste stel soos ’n irriterende hondjie al om Nadal se hakskene was en selfs ’n keer raakgebyt het nie. Dit verduidelik nie dat hy die Spanjaard sommer van die begin van die tweede stel af teen die toue begin druk het en so ontsenu het dat hy minder as die helfte van die punte op sy eie tweede afslaan gewen het nie.

Nadal was so deurmekaar dat hy ’n dubbelfout in die stel se laaste pot gemaak het om die klein bietjie momentum wat hy in daardie stadium gehad het te verloor.

Nadal was so deurmekaar dat hy ’n dubbelfout in die stel se laaste pot gemaak het om die klein bietjie momentum wat hy in daardie stadium gehad het te verloor.

Dit het hom die stel gekos – nadat hy sedert 2019 ’n volle 36 stelle in ’n ry gewen het. Verstommend genoeg was dit nie die eerste keer dat Schwartzman so ’n lang stel-segetog deur Nadal kon keer nie: Nadal het tussen 2016 en 2018 ook 38 stelle agtereenvolgens gewen voordat hy hom teen die Argentyn vasgeloop het.

Diego Schwartzman kon kop omhoog van sy kwarteindstryd teen Rafael Nadal wegstap, al is hy in die laaste stel verniel. Foto: Reuters

Schwartzman het die derde stel begin soos hy die tweede afgesluit het: met ’n aggressiewe benadering waaraan Nadal bitter min in sy eie koninkryk onderwerp word.

Maar ná ’n anderhalwe dekade van oorheersing in die Franse Ope is daar oor een ding nie meer twyfel nie: Nadal ken elke truuk in die boek en weet beter as enigiemand hoe om die bloeding op sy geliefde rooi klei stop te sit.

Vir agt potte in die derde stel het hy Schwartzman se krag en knaendheid geabsorbeer en toe in die negende pot toegeslaan. Hy het die Argentyn genoeg rondgejaag om hom te laat foute maak en toe die tweede van die breekpunte benut wat daaruit gevolg het. Dit was die laaste, en belangrikste draaipunt in die wedstryd, met Nadal wat vir die res van die wedstryd nie weer ’n pot verloor het nie.

In die laaste stel was Nadal op sy heel beste. Hy het Schwartzman met kraghoue gepeper en net sewe punte verloor. ’n Mens kon maklik vergeet dat hy net ’n paar dae gelede 35 jaar oud geword het.

“Diego is ’n ongelooflike speler met groot talent en hy het my respek,” het Nadal ná die wedstryd gesê.

Ons ken mekaar goed en nadat ek die tweede stel sleg begin het, het ek geweet ek is in vir ’n ding. Ek het besef ek moes meer aggressief speel en gelukkig kon ek dit toe begin doen.
Rafael Nadal

“Ons ken mekaar goed en nadat ek die tweede stel sleg begin het, het ek geweet ek is in vir ’n ding. Ek het besef ek moes meer aggressief speel en gelukkig kon ek dit toe begin doen.”

Nadal is nog nooit van die Musketierstrofee weggehou as hy die kwarteindronde oorleef het nie. Hy sal in sy halfeindstryd te staan kom teen die wenner van Woensdagaand se wedstryd tussen die eerste gekeurde, Novak Djokovic, en negende gekeurde, Matteo Berrettini.

Die eindstryd word Sondag beslis.

Meer oor:  Diego Schwartzman  |  Rafael Nadal  |  Spanje  |  Argentinië  |  Parys  |  Kwarteind  |  Tennis  |  Kleibaantoernooi  |  Grand Slam
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.