
Rafael Nadal is op die wenpad in die Mexiko-toernooi in Acapulco. Foto: Getty Images
Rafael Nadal is veilig deur na die tweede ronde van die Mexikaanse Ope in Acapulco.
Hy het sy Spaanse landgenoot Pablo Andujar Dinsdag in die eerste ronde in skoon stelle met 6-3, 6-2 geklop.
Nadal was vir die eerste keer in aksie ná die Match in Africa teen Roger Federer vroeër vandeesmaand in Kaapstad.
Andujar het in die eerste pot op Nadal se afslaan deurgebreek, maar daarna was dit grootliks eenrigting-verkeer.
“As jy ’n tydjie nie gespeel het nie, het jy só ’n wedstryd nodig om weer jou ritme en selfvertroue te vind,” het Nadal gesê.
As jy ’n tydjie nie gespeel het nie, het jy só ’n wedstryd nodig om weer jou ritme en selfvertroue te vind.
Rafael Nadal
“Die verandering in temperatuur was ook half drasties.”
Die Spanjaard is die eerste gekeurde. Sou hy Sondag die titel wen, moet Novak Djokovic die halfeindronde van die Dubai-toernooi haal om sy nr. 1-posisie op die wêreldranglys te behou.
Die Duitser Alexander Zverev, die tweede gekeurde, het ondanks ’n stadige begin die kwalifiseerder Jason Jung van Taipei met 7-6 (8-6), 6-1 geklop.

Stefanos Tsitsipas
* In die Dubai-toernooi het Stefanos Tsitsipas Dinsdag ’n mededingende eerste stel teen die Spanjaard Pablo Carreno Busta oorkom om met 7-6 (7-1), 6-1 te seëvier.
Tsitsipas sal in die tweede ronde teen Alexander Bublik van Kazakstan te staan kom.
Dié twee het die afgelope Saterdag ook in die halfeindronde van die Marseille-toernooi kragte gemeet en die Griek was toe met 7-5, 6-3 baas. Hy het voortgegaan om sy tweede agtereenvolgende titel te wen.
Fabio Fognini, die vierde gekeurde, het ’n voorsprong prysgegee en is met 3-6, 6-4, 7-5 deur Dan Evans geklop.
Benoit Paire, die agtste gekeurde, het vier wedstrydpunte oorleef en eindelik die botoon gevier teen Marin Cilic. Die telling was 2-6, 7-5, 7-6 (7-1).
* Intussen is die Skot Andy Murray se paadjie terug na mededingende tennis baie steiler as wat hy verwag het.
Hy het Woensdag in ’n verklaring gesê hy slaan ’n paar balle en hardloop op die trapmeul, maar ervaar steeds pyn.
Hy het Woensdag in ’n verklaring gesê hy slaan ’n paar balle en hardloop op die trapmeul, maar ervaar steeds pyn.
Nadat hy verlede jaar ’n heupoperasie ondergaan het, sukkel hy nou met ’n kneusing op sy skaambeen en die metaalplate in sy heup maak dit moeilik om ’n behoorlike diagnose deur middel van ’n skandering te kry.
Murray het nog nie weer gespeel sedert November se Davisbeker-toernooi nie. – TeamTalk, Atptour.com