Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Rafa stoom voort; Kyrgios skraap deur

Rafael Nadal het Saterdag min genade aan sy landgenoot Pablo Carreño Busta betoon in die derde ronde van die Australiese Ope in Melbourne.

Rafael Nadal het Saterdag met sy landgenoot Pablo Carreño Busta klaargespeel by die Australiese Ope. Foto: Getty Images

Die Spanjaard het merkwaardige verbetering gewys ná sy eerste twee wedstryde en vir Busta met 6-1, 6-2, 6-4 laat les opsê sonder om ’n enkele breekpunt af te staan.

“Dit was sonder twyfel my beste wedstryd van die toernooi tot dusver so dit is ’n goeie ding,” het Nadal ná afloop van sy sege gesê.

“Ek is baie gelukkig. Jammer aan Pablo, want hy is ’n goeie vriend van my, maar dis goeie nuus vir my, want ek is in die vierde ronde.”

Nadal het ook erken dat hy tot in die vroeë oggendure wakker was om Roger Federer se kragmeting teen John Millman te kyk.

Federer het Millman in vyf stelle met 4-6, 7-6 (7/2), 6-4, 4-6, 7-6 (10/8) geklop in ’n stryd wat vier uur en 45 minute geduur het.

Volgens Nadal het hy eers ná die vyfde stel genoeg ontspan om te kon inkruip voor sy wedstryd teen Busta.

Dít nadat die 23-malige Grand Slam-wenner Serena Williams, die verdedigende kampioen, Naomi Osaka, én die 2018-kampioen, Caroline Wozniacki, almal in die derde ronde uitgeskakel is.

Nadal kom volgende teen Nick Kyrgios te staan, wat Saterdag in ’n naelbytstryd van vier uur en 26 minute voor sy tuisskare vir Karen Khachanov van Rusland met 6-2, 7-6(7/5), 6-7(6/8), 6-7(7/9), 7-6(10-8) getroef het.

Dit was die langste wedstryd in Kyrgios se loopbaan.

“Dit was mal. Ek weet nie regtig wat om te sê nie. My bene voel of hulle 40 kg weeg,” het ’n sigbare uitgeputte Kyrgios ná sy wedstryd gesê.

“Dit was beslis een van die beste oorwinnings in my loopbaan.”

Dominic Thiem het Saterdag ’n oortuigende vertoning gelewer om sy plek in die volgende ronde te bespreek nadat hy Taylor Fritz geklop het.

Thiem, wat vyfde gekeur is, het met 6-2, 6-4, 6-7(5/7), 6-4 gewen om te verseker dat hy volgende met die Fransman Gaël Monfils swaarde sal kruis in die vierde ronde.

Monfils, wat 10de gekeur is, het sonder te veel moeite met Ernests Gulbis afgereken met 7-6(7/2), 6-4, 6-3.

Net so het Andrey Rublev ook sy goeie peil voortgesit om vir David Goffin te troef nadat die Rus ’n stel agter was.

Rubleb het die Belg met 2-6, 7-6(7/3), 6-4, 7-6(7/4) geklop.

Alexander Zverev het in skoon stelle vir Fernando Verdasco met 6-2, 6-2, 6-4 pak gegee. – Sportredaksie

Meer oor:  Nick Kyrgios  |  Rafael Nadal  |  Melbourne  |  Australiese Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.