Die eerste gekeurde Rafael Nadal het Vrydag in die langste tenniswedstryd van vandeesweek se ATP-eindtoernooi in Londen wéér teruggeveg – dié keer om ’n onoorwonne Stefanos Tsitsipas te stuit.

Rafael Nadal van Spanje met sy trofee as die voorste speler ter wêreld in 2019. Foto: Getty Images
Die Spanjaard het Tsitsipas met 6-7(4), 6-4, 7-5 verslaan, in net minder as drie uur. Dit het sy kans lewend gehou om te kwalifiseer vir die toernooi se halfeindronde, maar sy lot was steeds in die hande van die Rus Daniil Medvedev, wat later Vrydag met Alexander Zverev moet afreken vir Nadal om deur te dring na die laaste vier.
Nietemin het Nadal met ’n breë glimlag van die O2-arena weggery, ná ’n seremonie om te vier dat hy nóg ’n jaar (die vyfde van sy loopbaan) in die boonste posisie op die wêreldranglys sal afsluit.
Dít is Donderdagaand verseker, toe Roger Federer die wêreld nr. 2, Novak Djokovic, afgestof het.
Wat die jaareindtoernooi aanbetref is Tsitsipas ondanks sy nederlaag teen Nadal wel deur na die halfeindronde. Die uitslag van die wedstryd tussen Medvedev (wat nie meer kan kwalifiseer nie) en Zverev sal bepaal of Tsitsipas eerste of tweede in die groep eindig.
Die 21-jarige Tsitsipas speel in sy eerste jaareindtoernooi, maar was Vrydag teen die ervare Nadal indrukwekkend onder druk. Hy was die kalmer speler in die eerste stel se valbylpot.
Die momentum het egter in die tweede stel teruggeswaai na Nadal, ná die Spanjaard se voorarm mooi opgewarm het.
Tsitsipas moes in die vyfde pot (waarin hy ’n dubbelfout begaan het) en die sewende pot diep delf om breekpunte af te weer. In die negende pot het die damwal egter gebreek en het Nadal die eerste deurbraak van die wedstryd gemaak.

Roger Federer. Foto: Getty Images
Die druk op Tsitsipas het in die derde stel voortgeduur, met Nadal wat in twee agtereenvolgende afslaanpotte breekpunte gehad het. Uiteindelik moes hy wag tot die elfde pot voor hy die belangrikste deurbraak van die wedstryd kon bewerkstellig.
* In die ander groep het Federer sy plek in die halfeindronde Donderdag bespreek deur Djokovic met 73 minute van haas foutlose tennis uit te knikker.
Die 38-jarige Federer het elf kishoue gemoker en met 6-4, 6-3 geseëvier. Dit was sy eerste oorwinning oor Djokovic in hul laaste vyf wedstryde.
Anders as in Julie, toe hy ’n dramatiese vyfstel-eindstryd teen Djokovic verloor het en in die kleedkamer gaan huil het, het Federer dié keer trane van blydskap gestort.
Ek is net bly om vandag op die vlak te kon speel, en uiteraard is dit altyd spesiaal om Novak te kon klop, selfs meer na wat gebeur het.
Roger Federer
Die maestro het volgehou die Wimbledon-eindstryd het nie Donderdag by hom gespook nie. Die enigste spoke wat daar voor hul herontmoeting was, is deur die media opgejaag.
“Ek is net bly om vandag op die vlak te kon speel, en uiteraard is dit altyd spesiaal om Novak te kon klop, selfs meer na wat gebeur het.
“Maar ek het nie gevoel dat ek van enige spoke of so iets ontslae moes raak nie. Ek het reeds aanbeweeg (na Wimbledon),” het hy aan atptour.com gesê.
Federer hoop om die naweek te verbeter op sy rekord van ses jaareindtitels.
Die halfeindstryde is Saterdag om 16:00 en 22:00 en Sondag se eindstryd sal om 20:00 beslis word.