Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Rafa voor sy grootste toets in Parys
Nadal
Die prentjie wat ons sal sien as Rafael Nadal vandag sy 13de Franse Ope-titel wen. Maar eers moet hy verby Novak Djokovic kom. Foto: Reuters

In die afgelope twee weke het Rafael Nadal nie ’n enkele stel in sy klei-koninkryk afgestaan nie.

Met Parys se blare reeds oranje en geel, was daar ’n liederlike byt in die lug. Parys was kouer as wat Nadal gewoond is en die Roland Garros-bane stadiger. Die nuwe Wilson-balle bons boonop nie soveel as wat die spelers gewoond is nie.

En tog was een ding net soos altyd: Nadal se standaarde was so hoog soos die wêreld verwag. Oudergewoonte het hy balle in alle uithoeke van die baan gaan haal, oudergewoonte houe van waansinnige gehalte oor die net gejaag. Jy wen natuurlik nie 12 Franse Ope-titels in 15 jaar as jy nie weet hoe om jouself te handhaaf op rooi klei nie – en selfs ’n gebrek aan voorbereiding en die tiek-tok van die horlosie kon Nadal nie die laaste paar dae stuit nie.

Die natuurlike ding om te doen, sou wees om Nadal (oudergewoonte) as die groot gunsteling te bestempel voor hy vandag vir die 13de keer vir die eindstryd van die Franse Ope aantree. En tog is hierdie waarnemer skrikkerig om dit te doen.

Nie omdat daar enige gebreke in die Spanjaard se spel was nie – inteendeel. Nie omdat ’n nuwe besering hom die laaste paar dae begin hinder het nie.

Nee, die versigtigheid spruit nie uit enigiets wat Nadal gedoen het nie, maar weens die man wat vandag anderkant die net sal stelling inneem.

Die versoeking is daar om te sê Novak Djokovic sal met ’n agterstand vir die eindstryd aantree omdat sy halfeindstryd teen Stefanos Tsitsipas Vrydag vyf stelle geduur het. Net voor dit het Nadal Diego Schwartzman binne drie stelle oorrompel.

Maar juis die vyfstel-aard van sy halfeind maak Djokovic vandag gevaarlik.

Novak Djokovic

Die Serwiër was in die eerste 20 potte in elke aspek Tsitsipas se tier, en toe hy op 5-4 in die derde stel afslaan vir die wedstryd, was die stryd oënskynlik reeds gelewer.

Maar toe steel Tsitsipas daardie pot, daardie stel en ook die volgende stel voor Djokovic se neus weg. Dit was eers in die vyfde stel dat die wêreld se voorste speler weer soos, wel, die wêreld se voorste speler gelyk het.

Hy het die laaste stel met 6-1 gewen en stert in die lug van die baan gestap. Nou kan jy jou goed indink dat hy ewe stert in die lug vir die eindstryd sal opdaag – en waarskynlik sakke meer selfvertroue het as wat ’n gewone oorwinning hom sou gegee het.

Het hy in drie stelle gewen, het hy homself, Nadal en die wêreld immers nie weer herinner hoe diep sy reserwes is nie. Djokovic het nog nie vanjaar verloor nie (die enigste swart kol is sy diskwalifisering uit verlede maand se Amerikaanse Ope) en het die afgelope twee jaar telkens gewys dat hy in enige omstandighede ’n oorwinning uit die kake van ’n nederlaag kan red.

In verlede jaar se Wimbledon-eindstryd het hy byvoorbeeld 40 minder wenhoue as Roger Federer geslaan, 14 punte minder gewen en vier minder breekpunte benut, maar steeds die titel gebuit. In Januarie se Australiese Ope-eindstryd het Dominic Thiem hom vir groot dele van die kragmeting ore aangesit, maar Djokovic het oorleef.

Teen Nadal gaan die Serwiër beslis vandag swaar leef – maar Nadal se uitdaging is nie om moeilike vrae aan Djokovic te stel nie. Dis om eers op te hou vrae vra wanneer die wedstryd verby is, omdat hy te staan kom teen ’n man wat net een kans nodig het om ’n wedstryd op sy kop te keer.

Natuurlik het Djokovic ook heelwat motivering om vandag die kroon te dra. Wen hy vandag, sal hy Grand Slam-titel nr. 18 inpalm, en ’n groot tree nader gee aan Nadal se totaal van 19 en Federer se rekord van 20.

Nadal kan natuurlik vandag die rekord ewenaar, wat die debat oor wie tennis se beste ooit is, van nuuts sal laat opvlam. Maar Djokovic se naam kruip al meer in daardie debat in, en met goeie rede. Met ’n oorwinning vandag sal hy immers iets doen wat nie Federer of Nadal al ooit kon nie: Al vier grotes twee of meer keer wen.

Dit kan nietemin nie betwis word dat Nadal lewensgroot in sy pad staan nie. Hy ken elke klei-truuk in die boek. Sedert hy in 2005 sy buiging by Roland Garros gemaak het, het die Spanjaard twee wedstryde verloor – en 99 gewen.

Die laaste ding wat Nadal wil hê, is dat Djokovic hom van sy 100ste oorwinning weerhou.

Meer oor:  Novak Djokovic  |  Rafael Nadal  |  Roland Garros  |  Tennis  |  Franse Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.