Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Rafael Nadal herstel wonderbaarlik

Rafael Nadal het sy hoop op die ontwykende ATP-jaareindtitel lewendig gehou toe hy van 1-5 en ’n wedstrydpunt teen hom in die beslissende stel teruggeveg het om Daniil Medvedev met 6-7(3), 6-3, 7-6(4) Woensdag in Londen te troef.

’n Triomfantelike Rafael Nadal nadat hy Woensdag wonderbaarlik herstel het om Daniil Medvedev te troef. Foto: Getty Images

Dit het gelyk of die Rus hom met sy eerste sege oor Nadal gaan wreek in hul eerste ontmoeting sedert die eindstryd van die Amerikaanse Ope, maar die Matador van Majorka het veggees soos min gewys.

Medvedev het in die beslissende stel gou met 4-0 voorgeloop en met Nadal, wat afgeslaan het, met 1-5 en op 30-40 na die wenner gelyk. Nadal, oor wie se deelname daar vooraf vrae was weens ’n maagspierbesering, wou nie gaan lê nie.

Hy het herstel om met 6-5 die voorsprong in die beslissende stel te neem waarna hy die wedstryd toe in 2 uur en 46 minute met die valbylpot aan die einde beklink het. 

Nadal se sege beteken dat Novak Djokovic nou die jaareindtoernooi móét wen as hy die jaar as die voorste speler wil afsluit.

Dit plaas baie druk op Djokovic wat Donderdag in sy laaste groepwedstryd teen Roger Federer in ’n maak-of-breek-wedstryd speel.

Die wedstryd sal die einde van die paadjie vir een Djokovic of Federer in dié toernooi wees.

Novak Djokovic van Serwië sal meer as agteroor moet buig as hy die jaar as die voorste speler wil afsluit. Foto: Getty Images

Die wenner van die 49ste wedstryd tussen hulle sal saam met Dominic Thiem na die halfeindronde deurdring.

Dit kom ná Thiem met albei van hulle afgereken het.

Thiem, die vyfde gekeurde, het Djokovic Dinsdagaand in ’n rillerstryd met 6-7(5), 6-3, 7-6(5) geskok. Die tweede gekeurde Djokovic het met 4-1 in die valbylpot van die beslissende stel voorgeloop, maar kon nie seëvier nie.

Thiem is nog onoorwonne.

* Suid-Afrika se Raven Klaasen en Michael Venus van Nieu-Seeland het Dinsdagaand met hul tweede sege die eerste dubbelspelpaar geword om die halfeindronde te haal.

Hulle het die tweede gekeurde Lukasz Kubot van Pole en Brasilië se Marcelo Melo met 6-3, 6-4 geklop. – Johann de Jager, Reuters 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.