Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Rafael Nadal terug op nommer 1

Die Spaanse maestro Rafael Nadal is weer die tenniswêreld se voorste speler. Hy het Maandag vir die agtste keer die nommereen-posisie ingeneem.

Rafael Nadal in aksie in die kwarteindronde van die Paryse Meesterstoernooi teen Jo-Wilfried Tsonga. Hy het hom egter voor sy halfeindstryd teen Denis Shapovalov weens ’n maagspierbesering onttrek. Foto: Getty Images

Die 33-jarige Nadal is tans die naasoudste nr.1-speler in die geskiedenis van die mans se ATP-reeks (sedert 1973) nadat Roger Federer die posisie verlede jaar as 36-jarige beklee het.

Die Serwiër Novak Djokovic is egter kort op sy hakke. Nadal het 9 585 punte teenoor Djokovic se 8 945. Albei het in 16 toernooie gespeel.

Djokovic se peil is witwarm nadat hy Sondag sy vyfde Paryse Meesterstitel gewen het.

Daarteenoor moes Nadal hom Saterdag weens ’n maagspierbesering aan die toernooi in Parys onttrek.

Die Spanjaard sal egter alles in die stryd werp om voor die Serwiër te bly en die jaar vir die vyfde keer in sy loopbaan in die boonste posisie af te sluit (2008, 2010, 2013, 2017).

Die voorste agt spelers in die ATP-reeks swaai van Sondag af die raket in die Eindtoernooi, wat in Londen beslis word.

Sou Nadal daar koning kraai, sal hy die oudste kampioen in die geskiedenis van die toernooi wees.

Buiten Nadal en Djokovic sal Federer ook in aksie wees, asook Dominic Thiem van Oostenryk, die Rus Daniil Medvedev en die Griek Stefanos Tsitsipas.

Matteo Berrettini van Italië het die naweek die laaste posisie opgeraap.

Die Duitser Alexander Zverev is die verdedigende kampioen.

Nadal het op 18 Augustus 2008 as 22-jarige die eerste keer die boonste posisie bereik. Hy het dit vir 46 weke beklee tot 5 Julie 2009.

Dié Spanjaard is verlede jaar deur beserings geteister, maar het vanjaar weer skitterspel opgedis.

Hy het vier trofeë gewen, insluitend ’n geskiedkundige 12de titel in die Franse Ope en ’n vierde een in September in die Amerikaanse Ope.

* Daar was ook goeie nuus vir die Suid-Afrikaner Lloyd Harris. Hy is terug onder die voorste 100 spelers nadat hy met vier plekke verbeter het.

Die 22-jarige Harris beklee die 99ste plek nadat hy die afgelope naweek die halfeindronde van ’n Challenger-toernooi in Eckental, Duitsland, gehaal het.

Hy het Saterdag met 2-6, 4-6 teen die Belg Steve Darcis vasgeval.

Kevin Anderson het vanjaar weens beserings min gespeel en met 46 plekke tot 91ste teruggesak.

– Sportredaksie en atptour.com

Meer oor:  Tennis  |  Rafael Nadal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.