Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Sy wil sport nou van buite probeer red
Ntambi Ravele, voormalige raadslid van Tennis SA, wil ’n vergadering met Nathi Nthethwa, die minister van sport, belê.Foto: Gallo Images

Die vrou wat Saskok se waarnemende president aan die begin van die jaar kaalvuis gepak het, het bedank uit haar pos as raadslid van Tennis Suid-Afrika (TSA).

Dít, sê Ntambi Ravele, het sy gedoen sodat sy “die stelsels waarmee sport in Suid-Afrika bestuur word, van buite kan probeer verander, want van binne werk dit nie”.

Ravele het in Maart hoofopskrifte gehaal toe sy Saskok se waarnemende president, Barry Hendricks, en die TSA-president, Gavin Crookes, gaan aangee het omdat hulle haar poging om vir Saskok se presidentskap te staan na haar mening gedwarsboom het.

Ná ’n arbitrasie-proses is bevind dat Hendricks en Crookes oneties opgetree het toe hulle Ravele se kans om Saskok-president te word, bespreek het, maar dat dit nie genoeg was om hulle uit hul onderskeie poste te dwing nie.

In ’n TSA-ondersoek deur ’n onafhanklike komitee is bevind dat Ravele die organisasie se naam in oneer gebring het, maar is aanbeveel dat sy net op die vingers getik word. Sy was nie te vinde daarvoor nie en het aangedring om haar kant van die saak in ’n dissiplinêre verhoor te stel, maar het sedertdien besluit om eerder van TSA weg te stap.

“Ek moet nou ’n ander veldslag voer,” het Ravele Dinsdag by navraag gesê. “Daar is ’n groot gebrek aan goeie bestuur in Suid-Afrikaanse sport oor die algemeen, en in my opinie is die dinge wat by TSA verkeerd is, ook by vele ander federasies fout.

“Dit moet bespreek word, so ek het besluit om ’n vergadering met die minister (van sport, Nathi Mthethwa) te belê sodat hy kan hoor wat ek ervaar het as sportadministrateur en waar hulle stelsels moet gebruik om die doen en late van federasies beter te monitor.”

Ravele sê daarvoor móés sy haar huidige pos verlaat.

“Ek kan die stelsel nie van binne verander nie, want dan word ek daarvan beskuldig dat ek heeltyd kla. Dit wat skeefgeloop het, kan nou net van buite reggestel word.”

Die TSA-tugkomitee het Ravele verlede maand veral gekap omdat sy haar ongelukkigheid met Hendricks en Crookes by die minister van sport en daarna Saskok aangemeld het, eerder as om eers interne TSA-prosesse te volg.

Sy sê egter daar was nie ’n interne pad vir haar nie.

“TSA het nie eens ’n gedragskode op skrif nie en daar is nie ’n duidelike roete wanneer jy griewe wil lug nie,” sê sy. “Ek moes myself afvra: Hoe kan ek probeer terugkeer na ’n raad wat nie eens behoorlike prosedures het nie?”

Ravele sê sy wou deur ’n dissiplinêre proses die kans gegee word om te verduidelik hoekom sy gedoen het wat sy het, en meen dis verkeerd dat sy spesifiek daarvoor moes vra.

“In die interne ondersoek is bevind dat ek en die president verkeerd opgetree het, maar aanbeveel dat ons net aangespreek moet word, sonder verdere gevolge. Ek stem nie daarmee saam nie. Hoe kan daar besluit word daar is geen nagevolge as ons as raadslede verkeerd optree nie, maar daar word steeds van die raad verwag om lede van TSA te dissiplineer?

“Die bevindinge teen die president was dat hy sonder integriteit en deursigtigheid opgetree het toe hy die raad ingelig het dat TSA my nie vir die Saskok-pos sou benoem nie. Maar integriteit en deursigtigheid is kernwaardes van TSA. Oor my is gesê ek het TSA se naam in oneer gebring, maar ek het nooit die organisasie gekritiseer nie, net vir Hendricks en Crookes.

“Ek was gereed om myself te verdedig, maar ek het besef dit is nie die stryd wat ek moet stry nie. Daar is groter kwessies in Suid-Afrikaanse sport,” sê Ravele.

Vir die vraag of sy bekommerd is dat die departement van sport wel sal ingryp, het Ravele ’n kort antwoord.

“Ek is nie bang daarvoor nie. Ek gaan hulle bloot vra om hul werk te doen. Hulle kan byvoorbeeld begin om ’n liggaam op die been te bring wat spesifiek daar is om ongelukkigheid binne die federasies te hanteer. Soos dit nou staan, moet Saskok daardie rol vervul – maar hoe kan hulle sake by die federasies bemiddel as hulle self in ’n gemors is?”

• Richard Glover, die uitvoerende hoof van TSA, het Dinsdagmiddag bevestig dat daar nie ’n gedragskode vir TSA-raadslede is nie, maar gesê Ravele het wel ’n interne opsie gehad om haar griewe te lug.

“Volgens die TSA-grondwet was Muditambi (Ravele) by magte om te vra vir die oprigting van ’n dissiplinêre komitee om die gebeure waaroor sy ongelukkig was te ondersoek,” sê Glover. “Dit word deur afdeling 13(1)(a) van die Nasionale Sport en Ontspanningswet van 2007 vereis dat elke federasie sy dispute intern moet hanteer.”

Glover het gesê hy was jammer om Ravele te sien wegstap van die TSA-raad en het altyd groot waardering gehad vir die werk wat sy daar gedoen het.

Meer oor:  Tennis  |  Ntambi Ravele  |  Tennis Sa  |  Saskok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.