Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Djokovic klop Nadal in marathon-stryd
Novak Djokovic sal die Griek Stefanos Tsitsipas Sondag in die eindstryd van die Franse Ope pak nadat die Serwiër Rafael Nadal met 3-6, 6-3, 7-6(4), 6-2 geklop het. Só het die halfeindstryd tussen Djokovic en Nadal verloop.
11 Jun. 23:24:44

Vierde stel: DJOKOVIC WEN: 3-6, 6-3, 7-6(4), 6-2

Dubbelfout nr. 8 plaas Nadal onmiddellik op die agtervoet in 'n pot wat hy nie kan bekostig om te verloor nie. En toe hy die bal boonop daarna teen die net vasmoker, is Djokovic skielik net twee punte weg van 'n sege.

Die groot dame maak keel skoon toe Nadal 'n voorarmhou lank oor die kantlyn slaan. Drie wedstrydpunte vir Novak Djokovic.

Nadal red die eerste met 'n voorarmhou waarby Djokovic nie kan uitkom nie - maar met die tweede is sy toernooi verby. Nadal sit weer te veel petrol agter 'n voorarmhou, en dit vlieg oor die kantlyn om 'n einde aan sy veldtog te maak.

Volle krediet aan Djokovic, wat 'n futlose begin opgevolg het met sy heel beste tennis, en werklik die beter speler op die baan was.

Vir die eerste keer in 14 pogings kan Nadal nie verby die halfeindronde van die Franse Ope kom nie. As daar 'n 21ste Grand Slam-titel in sy toekoms is, gaan ons ongelukkig nog 'n ruk daarvoor moet wag.

Foto: AP

11 Jun. 23:17:56

Vierde stel: Nadal 2, *Djokovic 5 (* dui volgende afslaner aan):

Natuurlik is daar nie 'n siel op aarde wat sal glo dat Rafael Nadal tot handdoek ingooi in staat is nie - en hy is ook nie van plan om dit vanaand te doen nie.

Die Spanjaard uiter 'n allemintige brul na hy sake met 'n goeie hou gelyk maak op 15-15, maar hy kry nie veel tyd om daarin te baai nie, met Djokovic wat dadelik terugslaan.

Daar is 'n kinkel in die kabel. Djokovic maak net sy derde dubbelfout van die wedstryd, en op 30-30 is daar weer lig vir Nadal. Maar hy volg dit op met 'n afslaan wat Nadal nie kan bemeester nie en halfpad maan toe slaan. Die volgende punt is 'n behoorlike armdruk deur die twee groot slaners, maar Djokovic beëindig dit (en die pot) met 'n slim valhoutjie.

Die Serwiër is een pot weg van die eindstryd. Terwyl hy vroeg in die wedstryd op 5-1 gespartel het, was dit ondenkbaar. Maar daar is geen twyfel dat hy sedertdien meer wonder-oomblikke gehad het nie.

11 Jun. 23:12:28

Vierde stel: Nadal 2, *Djokovic 4 (* dui volgende afslaner aan):

Vier ure van die wedstryd is verby, en skielik begin die eindstryd groot voor Djokovic opdoem.

Die Serwiër wen sy vierde agtereenvolgende pot, nadat Nadal twee houe ver wyd slaan, en die bal op breekpunt teen die net vasslaan na Djokovic hom met 'n haas onhanteerbare voorarmhou folter.

Is die son besig om te sak vir die Koning van Klei?

Foto: AP

11 Jun. 23:06:21

Vierde stel: *Nadal 2, Djokovic 3 (* dui volgende afslaner aan):

Djokovic speel beslis met meer energie. Hy voer die telling tot 30-0 deur 'n uitstekende afslaan met 'n mooi voorarmhou af te rond, en wen nog 'n vinnige pot (weer binne 78 sekondes) danksy 'n kishou en onhanteerbare afslaan.

Die Serwiër het nou drie potte in 'n ry gewen. Die momentum is terug in sy guns.

11 Jun. 23:03:07

Vierde stel: Nadal 2, *Djokovic 2 (* dui volgende afslaner aan):

Dit voel soos laster om te wonder of Nadal se 35-jarige liggaam begin vou onder die yslike tydsduur van die wedstryd, en die steilte van die bult wat hy moet uitklim - maar sy sesde dubbelfout van die kragmeting, en 'n algemene traagheid voor sy afslane, laat sulke vrae ontstaan.

Djokovic bevind hom op 40-15 na 'n rits foute deur Nadal, en maak die deurbraak nadat Nadal die bal oor die agterlyn slaan. Dit was beslis nie die Nadal waaraan ons oor die jare op Roland Garros gewoond geraak het nie.

11 Jun. 22:57:57

Vierde stel: *Nadal 2, Djokovic 1 (* dui volgende afslaner aan):

Djokovic kom op die bord toe 'n ongedwonge fout deur Nadal opgevolg word met twee wenhoue en 'n wonderlike kishou van die Serwiër se raket. Die pot duur net 78 sekondes.

11 Jun. 22:56:21

Vierde stel: Nadal 2, *Djokovic 0 (* dui volgende afslaner aan):

Die tweede pot het 'n nagmerrie-begin vir Nadal, en na sy vyfde dubbelfout van die aand is hy met 0-30 op die agtervoet. Hy trek 'n punt terug deur Djokovic diep in die baan rond te jaag, en maak sake gelyk deur verdediging in aanval te verander met 'n valhou wat Djokovic laat rooi sien.

Na hy 'n ewigheid vat om af te slaan, is Nadal se beloning 'n pot-punt, met Djokovic wat 'n ongedwonge fout begaan. En hy beklink die pot deur nogeens soomloos van verdediging na aanval oor te gaan, en toe te kyk hoe Djokovic weer die bal teen die net vasslaan.

11 Jun. 22:49:55

Vierde stel: *Nadal 1, Djokovic 0 (* dui volgende afslaner aan):

Daar is geen twyfel dat Djokovic nou al die momentum het nie, en hy bou voort daarop deur die eerste twee punte van die vierde stel te wen.

Hy staan die derde punt af deur die bal teen die net vas te slaan, en die vierde na 'n wonderlike terughou deur Nadal. Dit voel wel of Nadal in die stadium teen 'n sterker gety as Djokovic swem, en tog is hy steeds in staat tot houe wat die Serwiër nie kan beantwoord nie.

Nadal kry inderdaad 'n breekpunt toe hy Djokovic tot nog 'n fout dwing - en begin die vierde stel deur die Serwiër se afslaanpot te steel met 'n vooarmhou wat Djokovic amper op sy neus laat beland.

11 Jun. 22:45:44

Die laaste keer wat Rafael Nadal met 2-1 agter was (in stelle) by Roland Garros, was in 2011 teen John Isner. Hy het wel daardie wedstryd gewen.

Die enigste ander keer wat dit hom oorgekom het, was in 2009 teen Robin Soderling - die eerste wedstryd wat hy ooit in sy gunsteling toernooi verloor het (en steeds een van net twee).

11 Jun. 22:43:58

Meer oor:  Novak Djokovic  |  Tennis  |  Franse Ope  |  Rafael Nadal  |  Halfeindstryd
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.