Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Roger en Rafa rol voort in Indian Wells

Roger Federer en Rafael Nadal is steeds op koers om mekaar in die halfeindronde van die BNP Paribas Ope in Indian Wells, Kalifornië te pak, nadat albei gemaklike seges in die vierde ronde behaal het.

Roger Federer is veilig deur na die kwarteindronde van die BNP Paribas Ope. Foto: USA Today Sports

Federer het Woensdag net meer as ’n uur nodig gehad om die Brit Kyle Edmund in hul eerste ontmoeting met 6-1, 6-4 huis toe te stuur en sy plek in die kwarteindronde te bespreek.

Nou wag nog ’n onbekende faktor op die Switser, in die vorm van die Pool Hubert Hurkacz.

Hurkacz het die Kanadese tiener Denis Shapovalov vroeër die dag met 7-6 (7/3), 2-6, 6-3 verslaan.

Nadal was genadeloos in sy vierderonde-stryd teen die Serwiese kwalifiseerder Filip Krajinovic. Die Spanjaard het drie van vier breekpunte benut en met 6-3, 6-4 geseëvier.

Nie Federer of Nadal het tot dusver in Indian Wells al ’n stel verloor nie. Federer het die kroon al vyf keer gedra en Nadal drie keer.

Alle oë is nou op dié duo, nadat die wêreld se voorste speler, Novak Djokovic, Dinsdag die knie voor die Duitse veteraan Philipp Kohlschreiber gebuig het.

Kohlschreiber het op sy beurt Woensdag lam en tam voorgekom terwyl hy met 6-0, 6-2 deur die Fransman Gael Monfils verneder is.

Rafael Nadal rol ook steeds voort in Kalifornië. Foto: USA Today Sports

Monfils se teenstander in die kwarteindronde is die Kanadees Milos Raonic, wat met 6-4, 6-3 baas was teen

Jan-Lennard Struff.

* Die Kanadese tiener Bianca Andreescu het vir ’n groot opskudding gesorg in die kwarteindronde van die vrouekompetisie. Sy het die tweemalige Grand Slam-kampioen Garbine Muguruza met 6-0, 6-1 getrap nadat sy vyf van sewe deurbraak-kanse benut het.

Die 18-jarige het gesê die geheim was om nie geïntimideer te word deur haar meer geroemde teenstander nie en op haarself te fokus.

Andreescu is nie algemeen bekend nie, maar sy geniet tot dusver ’n uitstekende 2019. Woensdag se sege was haar 26ste van die jaar – meer as enige ander WTA-speler.

Die tiener (60ste in die wêreld) sal in die halfeindronde te staan kom teen die sesde gekeurde Elina Svitolina, wat Marketa Vondrousova met 4-6, 6-4, 6-4 geklop het. 

– Reuters

Meer oor:  Indian Wells  |  Tennis  |  Wta  |  Roger Federer  |  Atp  |  Rafael Nadal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.