Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Roger, Maria se donker aand in New York
Roger Federer is Dinsdagoggend vroeg (SA tyd) uit die Amerikaanse Ope geskakel. Foto: Getty Images

Die Amerikaanse Ope het Maandag twee van sy grootste trekpleisters verloor toe Roger Federer en Maria Sharapova uit dié tennistoernooi geboender is.

Supersport.com berig Federer, die vyfmalige kampioen wat 10 jaar gelede sy laaste titel by Flushing Meadows kon wen, is deur die onbesonge Aussie John Millman met 3-6, 7-5, 7-6 (9/7), 7-6 (7/3) verslaan.

Millman is 55ste op die wêreldranglys en dit was Federer se eerste nederlaag teen ’n speler buite die top-50 in 41 kragmetings in New York.

Die wenner van 20 Grand Slam-titels het die wedstryd met 77 ongedwonge foute en 10 dubbelfoute afgesluit.

“Dit was baie warm. Dit het gevoel ek kry nie asem nie en het meer en meer ongemaklik geraak,” sê Federer.

“Ek was seker maar bly toe die wedstryd eindig.

“John het die toestande beter hanteer. Hy is van Brisbane, een van die plekke in die wêreld met die hoogste humiditeit!”

Dit was Fededer se swakste vertoning by die toernooi sedert sy nederlaag in die vierde ronde teen Tommy Robredo in 2013.

Die uitslag beteken die watertand-vooruitsig van ’n ontmoeting tussen hom en Novak Djokovic in die kwarteindronde is van die baan, met Millman wat nou teen die Serwiër te staan kom.

“Ek het so baie respek vir Roger en alles wat hy vir die sport gedoen het. Hy is een van my helde,” sê Millman.

“Hy was vir seker nie vandag op sy beste nie. Maar ek sal die sege vat.”

Maria Sharapova se toernooi is ook verby. Foto: Getty Images

Sharapova, die kampioen in 2006, is vir die tweede jaar agtereenvolgens voor die kwarteindronde in New York uitgeskakel.

Carla Suarez Navarro van Spanje het haar 30ste verjaardag in styl gevier deur die Rus met 6-4, 6-3 te troef.

Sharapova, ’n vyfmalige Grand Slam-kampioen wat haar laaste Grand Slam-titel in Parys in 2014 beklink het, het 38 ongedwonge foute begaan en haar afslaan op ses geleenthede prysgegee.

“Ek dink sy het regtig goed gespeel. Ek dink in die toestande vandag het haar bal bietjie meer gewip, meer as my vorige drie teenstanders,” sê Sharapova.

Suarez Navarro, wat die kwarteindronde in New York ook in 2013 gehaal het, se volgende teenstander is die Amerikaner Madison Keys.

“Maria het al baie hier in die aand gespeel en ek het geweet ek moet gefokus en aggressief wees,” sê Suarez Navarro.

– Sportredaksie

Meer oor:  Flushing Meadows  |  Tennis  |  Roger Federer  |  Maria Sharapova  |  New York  |  Amerikaanse Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.