Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Roger se masker glip in Laverbeker
Roger Federer en Dominic Thiem vier ’n punt vir Alexander Zverev in die laaste wedstryd van die Laverbeker-stryd tussen Europa en ’n Wêreldspan. Foto: Getty Images

Ná ’n anderhalwe dekade van elegante tennis en smaakvolle onderhoude het Roger Federer hom gevestig as tennis se skoonste van skoongesig-seuns.

Wie sou kon raai hy kan f-bomme saam met die rofste van ouens gooi?

Die Switser se koorseun-masker het Sondag geglip, toe ’n videogreep waarin hy sy Europese Laverbeker-spanmaat Alexander Zverev voor die bepalende wedstryd van die kragmeting met die Wêreldspan aanmoedig deur vier gekruide woorde binne tien sekondes te gebruik.

Die Europeërs was met 10-11 agter voor Zverev se enkelspelwedstryd teen die Kanadees Milos Raonic, en dit was daarom geen verrassing nie dat Federer en Rafael Nadal, hul span se grootste honde, saam met die jong Duitser baan toe gestap het daarvoor.

Alexander Zverev is in die wolke ná sy wenpunt in die laaste wedstryd van die Laverbeker, wat die titel vir Europa verseker het. Foto: Getty Images

Met drie punte op die spel sou dié wedstryd immers die Laverbeker-kampioen bepaal.

“Ek soek ’n gebalde vuis of ’n ‘Let’s go’ ná elke f***en punt wat ons wen. En elke punt wat ons verloor, f***en vat ons soos ’n man,” sê Federer aan Zverev, wat daarvoor berug is dat sy skouers begin hang wanneer hy agter raak. “Ek soek geen negatiewe *** nie,” voeg hy by, voor Nadal van agter sy skouer laat hoor: “Nie een negatiewe gesig nie.”

Die onverwagse manier waarop Federer sy jong spanmaat gemotiveer het, het soos ’n droom gewerk. Zverev het die belangrike laaste wedstryd met 6-4, 3-6, 10-4 gewen.

Die 38-jarige Federer het darem Sondag meer gedoen as net hard gepraat, met sukses in sy eie enkelspelwedstryd wat die Europeërs se dwalende skip terug op koers gekry het.

Europa was halfpad deur die eerste dag met 11-7 agter, maar Federer het die kragmeting lewendig gehou deur die Amerikaner John Isner met 6-4, 7-6(3) te klop en drie waardevolle punte vir sy span in te samel.

Europa het nou al drie die eerste Laverbeker-kompetisies gewen. Foto: Getty Images

Danksy daardie uitslag en Zverev se oorwinning was hulle baas met 13-11 en is die Laverbeker – Federer se breinkind wat sedert 2017 jaarliks plaasvind – vir die derde keer in Europese hande geplaas.

Zverev sê hy was baie dankbaar vir die harde woorde van die Europese span se twee supersterre.

“Hulle het my beslis deur daardie wedstryd gehelp,” het Zverev volgens Tennis365 gesê. “Hulle het gesê ek moet vuur in my pens kry en dat hierdie wedstryd my seisoen kan verander. Ek het die laaste tyd baie naelskraap-wedstryde verloor, so ek is baie bly om ’n ander uitkoms te kry.”

Meer oor:  Tennis  |  Roger Federer  |  Laverbeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.