Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Roger sit Kevin ore aan in Londen

Dis mos meer soos die Roger Federer wat ons ken.

Roger Federer was Donderdag in Londen in skoon stelle baas teen Kevin Anderson. Foto: Reuters

Die Switserse maestro het Donderdagaand by die ATP-reeks se jaareindtoernooi die eerste plek in sy groep verseker toe hy Suid-Afrika se Kevin Anderson in skoon stelle verslaan het.

Federer het die toernooi begin met ’n nederlaag teen Kei Nishikori, maar veel beter in sy tweede wedstryd teen Dominic Thiem vertoon – en in sy kragmeting teen Anderson sy vyfde rat bereik.

Die Switser het Anderson van bakboord na stuurboord gestuur én sy grootste wapen, sy monster-afslaan, geneutraliseer. Hy het drie keer op die Suid-Afrikaner se afslaan deurgebreek om met 6-4, 6-3 te seëvier.

Met dié oorwinning het Federer seker gemaak hy eindig vir die 14de keer in 16 jaareindtoernooie boaan sy groep.

Anderson het sy eerste twee wedstryde gewen met aggressiewe tennis, maar teen Federer het dit nie dieselfde uitwerking gehad nie. Die hemelbesem het met tye té hard probeer en talle balle tot in die agterbaan geslaan. Daar was 24 ongedwonge foute agter sy naam aan die einde van die wedstryd, teenoor Federer se 14.

Hy was ook veel minder effektief by die net as teen Thiem en Nishikori.

Boonop het Anderson se tweede afslaan so te sê geen impak gemaak nie. Die Switser het 68% van die punte daarop gewen.

Ondanks die nederlaag het Anderson steeds Donderdag die eerste Suid-Afrikaner ooit geword om vir die halfeindronde van dié eksklusiewe toernooi te kwalifiseer, toe Thiem in die dag se eerste wedstryd met Nishikori afgereken het.

Kevin Anderson het nie antwoorde vir Federer se moeilike vrae gehad nie. Foto: Reuters

Federer het gesê dit het Anderson dalk benadeel.

“Dalk was dit wat dinge moeilik gemaak het vir Kevin, dat hy voor die tyd reeds geweet het hy is deur,” het die Switser gesê.

Federer moes minstens vyf potte teen Anderson wen om sy plek in die volgende ronde te bespreek. Hy was in die wolke ná sy sege.

“My eerste wedstryd teen Kei was taai, ek het nooit aan die gang gekom nie, maar daarna het ons ’n wedstrydplan vir Dominic en Kevin uitgewerk en dit het gewerk,” het Federer gesê.

“Ek is regtig opgewonde om weer in die halfeindronde te wees. Die lyf voel goed en ek is baie bly dat daar nog energie in die tenk is so laat in die seisoen.”

Federer en Anderson se halfeind-teenstanders sal Vrydag bepaal word. Anderson sal te staan kom teen die speler wat eerste in die ander groep eindig – waarskynlik Novak Djokovic.

Djokovic pak die Kroaat Marin Cilic Vrydagaand om 22:00. Voor dit sal die Duitser Alexander Zverev en Amerikaner John Isner slaags wees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.