Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
SA se Montsi skitter op kleibaan
Khololwam Montsi in aksie in Maart vanjaar, op dag een van die ITF se Afrika-kampioenskappe vir juniors in Pretoria. Foto: Gallo Images

Die Suid-Afrikaanse tienersensasie Khololwam Montsi het die naweek gewys hy kan sy man staan toe hy die Franse promotorskeuse Axel Garcian in skoon stelle geklop het in die eerste ronde van die Franse Ope-tennistoernooi vir juniors.

Montsi, ’n 17-jarige van Kaapstad en 11de gekeur vir die Ope, het die tuisspeler met 6-2, 6-2 oorrompel.

Die ongekeurde Garcian is 68ste op die junior wêreldranglys en die Suid-Afrikaner 13de.

Kleibaantennis was nog altyd Montsi se gunsteling oppervlak en hy het dit weer onderstreep deur binne ’n ommesientjie die eerste vier potte van die eerste stel te wen.

Hy het in die sesde ’n effense insinking beleef en sy afslaanpot verloor, maar dadelik teruggeveg en uiteindelik die stel met 6-2 beklink.

Garcian was meer op sy gemak in die tweede stel en het na ’n vroeë deurbraak met 2-1 voorgeloop, maar Montsi het die volgende vyf potte op ’n streep gewen om die tweede ronde te haal.

Die Suid-Afrikaner kom nou teen die ongekeurde Brit Felix Gill te staan. Hy is 38ste op die juniors se ranglys en het sy plek in die tweede ronde bepreek deur Italië se Leonardo Malgaroli met 5-7, 6-4, 6-3 uit te skakel.

Montsi het na die oorwinning gesê die verskil tussen hom en sy teenstander was dat hy die “groot punte” beter gespeel het.

“Dis ’n verligting om die Ope so te begin. Dis ’n ongelooflike ervaring om hier op Roland Garros te kan speel, dis iets waaroor ek nog altyd gedroom het.

“Ek dink my vertoning oor die algemeen was heel skaflik. Die geleentheid is nou geskep en ek kan net verbeter. Ek wou aggressief wees op elke punt, maar ook die basiese dinge reg doen,” het die jongeling gesê.

“Dit was ’n goeie wedstryd en ek dink al verskil tussen ons was dat ek beter gespeel het op die groot punte.

“Die outjie (Garcian) is ’n goeie speler en hy het my vir elke punt laat swoeg. Selfs toe hy ’n agterstand gehad het, was ek nooit op my gemak nie. Hy het aanhou veg vir elke punt.

“Van my volgende teenstander (Gill) weet ek nie veel nie. Ek weet hy is linkshandig en ofskoon ek nog nie teen hom gespeel het nie, het ek hom darem al ’n paar keer in aksie gesien.

“Ek weet dus wat om van hom te verwag en ek sal als uithaal om hom te klop,” het Montsi gesê. – supersport.com

Meer oor:  Tennis  |  Franse Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.