Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
SA se Raven in Wimbledon-eindstryd

Suid-Afrika se Wimbledon-bonanza hou net aan gee en gee.

Raven Klaasen (links) en Michael Venus sal Saterdag Wimbledon se mansdubbelspel-kroon probeer verower, in die eindstryd van die grasbaan-major.Foto: Getty Images

Kuilsrivier se Raven Klaasen sal Saterdag op die hoofbaan van die All England Club aantree vir die eindstryd van die mansdubbelspelkompetisie, nadat hy en sy Nieu-Seelandse speelmaat, Michael Venus, Donderdag in hul halfeind baas was.

Klaasen en Venus, die 13de gekeurde span, het die ongekeurde Frederik Nielsen (Denemarke) en Joe Salisbury (Engeland) met 7-6 (8/6), 3-6, 6-3, 6-4 verslaan.

Die Klaasen/Venus-kombinasie het hul teenstanders Donderdag graag en gereeld op die verkeerde voet gevang, met ’n kombinasie van kragtige agterbaanhoue en uitstekende reflekse by die net.

Met laasgenoemde is Klaasen sonder twyfel een van die wêreld se bestes. Hy het by meer as een geleentheid drie keer in ’n ry ’n kort vlughou by die net onderskep om die deur in Salisbury-hulle se gesigte toe te klap.

Daarby is hy nie bang om die bal na die klein hoekies van die baan te slaan nie, wat hulle ook ’n paar punte in die sak gebring het.

Op Venus wag nou die kans om sy tweede Grand Slam-titel in 14 maande te wen (hy en die Yank Ryan Harrison het 2017 se Franse Ope-dubbelskroon gewen).

Klaasen is in sy eerste Grand Slam-eindstryd sedert 2014 se Australiese Ope en die eerste Suid-Afrikaner in die Wimbledon-titelstryd sedert Wesley Moodie in 2005.

Vir Suid-Afrika is Klaasen se sukses die jongste brokkie goeie tennisnuus in ’n wonderlike week. Woensdag het die gebore Johannesburger Kevin Anderson die eerste Suid-Afrikaner in 35 jaar geword wat die halfeindronde van die mansenkelspel haal, toe hy Roger Federer in vyf stelle verslaan het.

* Klaasen en Venus sal teen die Amerikaners Mike Bryan en Jack Sock te staan kom wat met Dominic Inglot en Franko Skugor in die ander halfeindronde afgereken het. Die Amerikaners was met 6-3, 6-1, 6-7 (11/13), 6-7 (4/7), 6-4 baas. 

* Die mansdubbelspel-eindstryd vind ná die vroue-eindstryd, wat Saterdag om 14:00 begin, plaas. 

TV: SS 6

Meer oor:  Raven Klaasen  |  Wimbledon
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.