Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Sakkari boender kampioen uit in Parys
Maria Sakkari bal uitbundig haar vuis nadat sy die verdedigende kampioen, Iga Swiatek, Woensdag in skoon stelle uit die Franse Ope geboender het. Foto: Reuters

Die Franse Ope se Suzanne Lenglen-trofee sal Saterdag ’n nuwe paar vingerafdrukke op kry, nadat die verdedigende vrouekampioen, Iga Swiatek, Woensdag seremonieloos uit die toernooi geboender is.

Swiatek, die enigste voormalige kampioen wat in die vroueloting oor is, het haar teen die 17de gekeurde Griek, Maria Sakkari, vasgeloop wat sonder te veel draadwerk met 6-4, 6-4 gewen het.

Dit het die laaste ruk al hoe meer begin lyk asof Swiatek haar titel met sukses sou kon verdedig, deels danksy haar eie wonderlike spel en deels omdat die sterre in die loting een vir een voortydig die aftog geblaas het. Sy kon haar gunstelingstatus egter nie Woensdag gestand doen nie.

Iga Swiatek

Die Pool was vinniger uit die blokke as haar teenstander en het Sakkari se senuwees uitgebuit om ’n voorsprong van 2-0 te neem. Sy het ook twee kanse gehad om deur te breek in Sakkari se tweede afslaanpot, maar kon dit nie benut nie. Daarna was daar ’n duidelike verandering in lyftaal aan albei kante van die net, met die Griek skielik stert in die lug.

Sakkari se ma, Angeliki Kanellopoulou, het die derde ronde by Roland Garros in 1985 en 1987 bereik en haar 25-jarige dogter sekerlik haar hele lewe lank vergas op verhale uit haar tennisloopbaan. Geen wonder dus dat Sakkari geweier het om boedel oor te gee op die Philippe Chatrier-baan nie. Vir iemand met haar agtergrond moet dit ’n ware droomwêreld wees.

Nadat sy haar aanvanklike afslaanprobleme begin uitstryk het, was daar skielik meer byt in alles wat die Griek gedoen het en dit het ál moeiliker vir Swiatek geraak om met haar saam te praat. Sy het die houeverwisselings begin oorheers en die kampioen getoets by die net en vanaf die agterbaan.

Sakkari het heeltemal beheer van sake geneem toe sy in die negende pot op Swiatek se afslaan deurgebreek het deur die Pool net een punt te gun. Van daar af het sy vyf potte in ’n ry (en die eerste stel) gewen, voordat Swiatek vir mediese aandag gevra het.

Die kampioen is kleedkamer toe vir ’n ondersoek en het met haar terugkeer ’n verband om haar regterbobeen gehad. Sy kon haar vlak daarna lig, maar dit was reeds te laat om die Griek terug aarde toe te ruk. Sy het alles met oorgawe gedoen en die deur bot toe gehou vir Swiatek.

“Ek is sprakeloos, dit is ’n droom wat waar geword het,” het Sakkari ná haar oorwinning gesê.

Ek het voor die wedstryd met myself ’n gesprek gehad en gesê, ja, dit is ’n baie belangrike wedstryd, maar gaan geniet dit net.
Maria Sakkari

“Daar is nog ’n lang pad voor, maar vandag was ’n reuse-tree na die einddoel. Ek het voor die wedstryd met myself ’n gesprek gehad en gesê, ja, dit is ’n baie belangrike wedstryd, maar gaan geniet dit net. Dit is tennis in een van die beste stadions ter wêreld, so waardeer dit.”

Sakkari se sege beteken dat Griekeland in die halfeindronde van die mans- én vroue-enkelspel verteenwoordig is, nadat Stefanos Tsitsipas Dinsdagaand na die ronde van vier deurgedring het.

Merkwaardig genoeg is Sakkari nou die hoogste gekeurde speler wat in die vroue-toernooi oor is en móét sy glo sy kan haar hande Saterdag op die trofee kry.

Barbora Krejcikova het vir die eerste keer in haar loopbaan die halfeindronde van ’n Grand Slam-toernooi gehaal. Foto: Reuters

Die Tsjeg Barbora Krejcikova, teen wie sy Donderdag in die halfeindronde te staan kom, het ’n uitstekende sege oor Coco Gauff behaal, maar is eintlik ’n dubbelspelspesialis wat nie verwag het om so ver in die enkelspelafdeling te vorder nie.

Krejcikova beskik wel soos Sakkari oor ’n sak vol toertjies en sal boonop voel sy het niks om te verloor nie.

Die ander halfeindstryd sal Donderdag deur die 31ste gekeurde Anastasia Pavlyuchenko en Slowenië se Tamara Zidansek beslis word.

Zidansek is die eerste Sloweense speler tot nog toe wat die laaste vier in ’n Grand Slam-toernooi kon haal.

Meer oor:  Barbora Krejcikova  |  Iga Swiatek  |  Parys  |  Frankryk  |  Tennis  |  Halfeind  |  Roland Garros
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.