Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Serena en Kerber het ’n eindstryd-afspraak

Jy moet simpatie hê met die Duitser Julia Görges. Sy het Donderdag die eerste keer ooit in ’n Wimbledon-halfeindronde gespeel en gehoop om ’n eindstryd-afspraak met haar landgenoot Angelique Kerber te maak.

’n Verheugde Serena Williams flits tande vir die skare nadat sy vir die tiende keer in haar loopbaan ’n enkelspel-eindstryd by Wimbledon gehaal het. Foto: Reuters

Wat sy egter gekry het, was ’n haastige en veglustige Serena Williams – en Görges was nie eintlik die meisie saam met wie die Amerikaanse legende haar middag in die Londen-son wou deurbring nie.

Williams het Donderdag net 70 minute nodig gehad om die tiende keer in haar loopbaan tot die Wimbledon-eindstryd deur te dring toe sy  Görges met 6-2, 6-4 uitgeknikker het.

Williams het wel die voorlaaste pot verloor, toe sy afgeslaan het vir die sege, maar het onmiddellik daarna Görges se gebrek aan selfvertroue uitgebuit en deurgebreek om die wedstryd tot ’n einde te bring.

Natuurlik het dit haar toegelaat om gouer by haar dogter, Olympia, uit te kom. En natuurlik hou dit haar op koers om die eerste keer sedert haar baba se geboorte verlede September nog ’n Grand Slam-titel by haar lywige totaal van 23 te voeg.

“Ek het regtig nie verwag om so goed te vaar in net my vierde toernooi in 16 maande nie,” sê Williams oor nóg ’n eindstryd op haar skedule.

“Ek het ’n baie moeilike bevalling gehad en amper nie oorleef nie. Ek kon kort ná haar geboorte nie eens na my posbus toe loop nie. Dis definitief nie normaal dat ek so gou in ’n Wimbledon-eindstryd is nie, daarom geniet ek net elke oomblik hiervan.”

Williams en Kerber het in 2016 ook in die Wimbledon-eindstryd teen mekaar gespeel. Williams het toe die sewende Wimbledon-kroon van haar loopbaan verower.

Saterdag se eindstryd sal net haar 14de wedstryd wees sedert Olympia se geboorte.

Angelique Kerber. Foto: Getty Images

* Kerber (30), 11de gekeur, was vroeër die dag ewe haastig om haar plek in die eindstryd te bespreek.

Sy het die 21-jarige Jelena Ostapenko binne net meer as ’n uur met 6-3, 6-3 van die baan geblaas.

Kerber het in 2016 die eindstryde van die Australiese Ope, Wimbledon én die Amerikaanse Ope gehaal, en geseëvier in Melbourne en New York.

Sy het daardie jaar as die wêreld se voorste vrouespeler afgesluit, maar dit het in 2017 na ’n swaar meulsteen om haar nek gelyk en sy het teen die einde van die jaar die eerste keer in vyf jaar uit die top-20 gesak.

Nou is dít egter net slegte herinneringe. Haar ervaring en rustigheid het haar Donderdag die oorhand gegee oor haar Letlandse teenstander. Ostapenko het verlede jaar die Franse Ope gewen, maar Donderdag, in die eerste Wimbledon-halfeindstryd van haar jong loopbaan, was sy onbestendig en geneig om foute te maak.

’n Opflikkering laat in die tweede stel, wat onder meer die afweer van ’n wedstrydpunt ingesluit het, kon nie die skade van die 31 ongedwonge foute wat van haar raket gevloei het, ongedaan maak nie.

Kerber was vanselfsprekend in die wolke oor haar nuutste sukses by die All England Club.

“Ek is regtig bly 2017 is verby en so trots om terug in ’n eindstryd op Wimbledon te wees,” het sy laggend gesê.

“Ek het goed probeer beweeg en daarop gekonsentreer om my kanse te benut, want Jelena slaan die bal altyd so hard. Sy het tot die laaste punt geveg.

“In die eindstryd sal ek nou speel soos in my laaste paar wedstryde hier, met die fokus op my eie spel.”

TV: Saterdag om 14:00 op SS6

Meer oor:  Wimbledon  |  Serena Wil­Liams  |  Angelique Kerber
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.