Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
KYK: Serena met R259 000 beboet

Serena Williams is met $17 000 (sowat R259 000) beboet vir die gedragskode-oortredings waarvoor sy in die eindstryd van die Amerikaanse Ope gewaarsku is.

Tydens Saterdag se wedstryd, wat sy met 2-6, 4-6 teen Naomi Osaka van Japan verloor het, is sy gewaarsku vir ’n afrigtingsoortreding en met ’n punt gestraf nadat sy haar raket stukkend geslaan het.

Die Amerikaner het daarna heftig teenoor die skeidsregter Carlos Ramos uitgevaar en is uiteindelik met ’n pot gestraf.

Die toernooiskeidsregter het die voormalige voorste speler ter wêreld met $10 000 beboet vir die “beledigende taal” wat sy teenoor Ramos gebruik het, $4 000 vir afrigting en $3,000 omdat sy 'n raket stukkend geslaan het.

Die bedrag sal van haar prysgeld van $1,85 miljoen (sowat R28 miljoen) afgetrek word.

Serena Williams argumenteer met die wedstrydskeidsregter Carlos Ramos. Foto: Getty Images
Williams buk om haar stukkende raket op te tel. Foto: Getty Images
Serena Williams praat met die Grand Slam-toesighouer Donna Kelso en die toernooiskeidsregter Brian Earley tydens die eindstryd van die Amerikaans Ope. Foto: Getty Images
Serena Williams nadat sy met die toernooiskeidsregter gepraat het. Foto: Getty Images

Williams, wat Saterdag probeer het om haar 24ste Grand Slam-titel te verower, het die oortredings heftig tydens die wedstryd bevraagteken.

Sy het daarop aangedring dat Ramos om verskoning vra dat hy haar vir ’n afrigtingsoortreding gewaarsku het en die skeidsregter later ’n “dief” genoem omdat hy haar met ’n punt gestraf het. 

Sy het geweier om ná die wedstryd sy hand te skud en hom later van seksisme beskuldig. Hy het nog nooit 'n pot by 'n man gevat omdat hy die woord dief gesê het nie,” het Williams gesê.

* Intussen het Marion Bartoli, die 2013 Wimbledon-kampioen, beaam dat mans- en vrouespelers verskillend behandel word.

“Wat die skeidsregter gedoen het, is heeltemal onaanvaarbaar en ek hoop dat daar opgetree gaan word, want ons kan dit nie net toelaat nie,” sê sy.

Bartoli meen dit is malligheid om Serena met 'n pot te straf as sy nie gevloek het nie.

“Sy is reg as sy sê dat mans goed sê wat tien keer erger is en dan nie eens gewaarsku word nie.”

Sue Barker, 'n voormalige Franse Ope-wenner en BBC-sportaanbieder, het gesê tennis was die groot verloorder.

“Die skeidsregter het die reëlboek nougeset gevolg, maar Serena het 'n punt.

“Ek het al langs die baan gesit en kyk hoe mans teenoor die skeidsregter uitvaar, maar nie gestraf word nie.

“Die feit dat die straf 'n pot was, het die toeskouers beroof van wat potensieel 'n derde stel kon wees.” – Reuters, BBC

Meer oor:  Eindstryd  |  Serena Williams  |  Naomi Osaka  |  Boete  |  Amerikaanse Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.