
Serena Williams het 19 van haar 21 wedstryde teen Maria Sharapova gewen. Foto: Getty Images
Serena Williams en Maria Sharapova kom teen mekaar te staan in die eerste ronde van die Amerikaanse Ope in New York.
Die Amerikaner en die Rus was al op 21 geleenthede slaags en hul kragmetings oor die jare het gereeld met ’n goeie dosis vyandigheid gepaard gegaan.
Hul wedstryd volgende week by Flushing Meadows sal egter die eerste keer wees wat hulle mekaar die stryd aansê sedert die kwarteindronde van die Australiese Ope in 2016.
Williams was 19 keer aan die wenkant, wat die afgelope 18 kragmetings agtereenvolgens insluit.
Die agtste gekeurde Williams, wat in September haar 38ste verjaarsdag vier, is steeds op soek na haar 24ste major-titel om die legendariese Margaret Court se rekord te ewenaar. Die organiseerders van die toernooi het reeds bevestig Carlos Ramos sal nie as skeidsregter optree vir enige van Williams of haar suster, Venus, se wedstryde by vanjaar se VSA-Ope nie.
Ramos was in 2018 in beheer van ’n chaotiese vroue-eindstryd toe die Japanner Naomi Osaka, toe 20 jaar oud, haar held Serena in New York geklop het om haar eerste Grand Slam-titel te wen, maar die kragmeting is deur omstredenheid oorskadu.
Osaka, eerste op die wêreldranglys en ook eerste gekeur vir die laaste Grand Slam-toernooi van die jaar, pak die Rus Anna Blinkova (93ste) in die eerste ronde.
Sy sal moontlik in die derde ronde teen die 15-jarige Amerikaanse sensasie Coco Gauff te staan kom, wat Venus Williams by Wimbledon geklop het en die laaste 16 in haar Grand Slam-debuut gehaal het.
* In die mansloting kan die verdedigende kampioen Novak Djokovic (1ste) se paaie in die halfeindronde met Roger Federer (3de) kruis en in die eindstryd teen Rafael Nadal (2de) te staan kom.
Die Serwiër se wenrekord teen Federer is 26-22 en 28-26 teen Nadal.
Volledige loting.
– Sportredaksie