Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Serena pak Osaka in eindstryd

Die sesmalige kampioen Serena Williams het Anastasija Sevastova Donderdag van die baan af gevee om haar negende Amerikaanse Ope-eindstryd te haal, waar die onbesonge Japanner Naomi Osaka op haar wag.

Serena Williams kan die rekordboeke herskryf met ’n sege in die eindstryd in New York. Foto: Getty Images

SuperSport berig die 17de gekeurde Williams het slegs 66 minute nodig gehad om Sevastova (19de) met 6-3, 6-0 af te ransel.

Osaka (20ste) het die eerste Japanse vrou geword om ’n Grand Slam-eindstryd te haal toe sy die Amerikaner Madison Keys – wat verlede jaar by Flushing Meadows in die eindstryd verloor het – met 6-2, 6-4 geklop het.

Naomi Osaka speel in haar eerste Grand Slam-eindstryd. Foto: Getty Images

Williams het haar terugkeer na die eindstryd as “ongelooflik” beskryf nadat sy verlede jaar hierdie tyd ’n operasie moes ondergaan vir lewensgevaarlike bloedklonte in die nadraai van die geboorte van haar eersteling.

“Om daarvan terug te keer, ek kon nie beweeg, praat of enigiets in daardie hospitaalbed doen nie. Dis nou eers ’n jaar later, ek oefen nie, maar ek is wragtig in hierdie eindstryde, sommer twee agtereenvolgens,” sê Williams, wat vanjaar ook die Wimbledon-eindstryd gehaal het.

“Om so vinnig so ver te vorder. Ek sien regtig uit na die moontlikhede.”

Williams is in die halfeindrondes van haar laaste twee verskynings by die VSA-Ope in 2015 en 2016 uitgeskakel.

Maar met ses titels in New York kan sy met ’n sege Saterdag Chris Evert se rekord oortref. Sy benodig boonop nog net een Grand Slam-kroon om die Aussie Margaret Court se rekord van 24 te ewenaar.

Die 20-jarige Osaka erken sy was gemotiveer deur die vooruitsig om Williams aan te durf.

Toe sy uitgevra is oor hoe sy al 13 breekpunte wat haar in die gesig gestaar het afgeweer het, was haar antwoord: “Ek het bly dink hoe graag ek teen Serena wil speel.”

Sy was uit die veld geslaan toe sy gevra is om uit te brei.

“Want sy is Serena, wat bedoel jy? Dit voel steeds baie vreemd, want ek kon nog nooit daarin slaag om Madison te klop nie. Ek is net verlig ek kon die wedstryd suksesvol voltooi.”

Osaka was aan die wenkant in haar enigste vorige kragmeting met Williams. Dit was in die eerste ronde in Miami in Maart, maar dit was slegs die Amerikaner se tweede toernooi nadat sy geboorte gegee het.

“Ek was beslis nie op my beste nie,” sê Williams, nou in haar sewende toernooi terug.

– Sportredaksie

Meer oor:  Flushing Meadows  |  Tennis  |  Serena Williams  |  Naomi Osaka  |  New York  |  Amerikaanse Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.