Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
'Serena sal om regte redes onthou word'

Die nalatenskap van Serena Williams, wat volgende week in haar eerste Grand Slam-toernooi meeding sedert haar dramatiese bekgeveg met die skeidsregter in die Amerikaanse Ope-eindstryd, sal nie skade ly weens haar woedebui in New York nie, sê Chris Evert.

Chris Evert en Serena Williams omhels mekaar op die Amerikaanse Ope in New York in 2014. Foto: Getty Images

Die Amerikaanse tennislegende glo haar landgenoot, wat op 14 Januarie haar veldtog om ’n 24ste major-titel op die Australiese Ope begin, sal onthou word vir haar merkwaardige reis van die dor bane in Compton waar sy die spel leer speel het, tot die kruin van die sport.

“Die feit dat sy vir so lank oorheers het en die rekord vir Grand Slam-titels kan verbeter, dink ek sal alle ander dinge aan die einde van die dag oorskadu,” sê Evert.

“Maar daar sal ’n voetnota wees dat Serena baie passievol is en dat sy soms haar op die baan vererg het, maar ek dink nie vir ’n minuut dit gaan haar reputasie in die geheel skade berokken nie.”

Williams is tydens September se eindstryd, wat sy met 2-6, 4-6 teen Naomi Osaka van Japan verloor het, deur die skeidsregter, Carlos Ramos, gewaarsku vir ’n afrigtingsoortreding en met ’n punt gestraf nadat sy haar raket stukkend geslaan het.

Sy het daarna heftig teenoor Ramos uitgevaar en hom onder andere ’n “dief” genoem. Sy is uiteindelik met ’n pot gestraf vir haar uitbarsting.

Williams was al in verskeie soortgelyke onderonsies betrokke, maar dié voorval, wat gelei het tot beskuldigings dat skeidsregters seksisties is en dat mans meer simpatiek behandel word, het die tenniswêreld verdeel.

Williams (37) het haar sewende Australiese Ope-kroon beklink met haar vorige verskyning in Melbourne in 2017, toe sy aan die begin van haar swangerskap met haar dogtertjie, Alexis Olympia, was.

Sy het met haar terugkeer verlede jaar die eindstryd by Wimbledon en die Amerikaanse Ope gehaal, maar albei kragmetings verloor.

Williams, wat tans die 16de posisie op die wêreldranglys beklee, benodig nog net een Grand Slam-enkelspeltitel om met Australië se Margaret Court gelyk te wees.

Sy het verlede week in die Hopmanbeker-spantoernooi in Perth verskyn ter voorbereiding vir die eerste major-toernooi van die jaar.

– Reuters

Meer oor:  Australiese Ope  |  Tennis  |  Serena Williams  |  Melbourne
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.