Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
‘Ek sê nog altyd Djokovic is die beste’

Patrick Mouratoglou, afrigter van die Amerikaanse tennisster Serena Williams, sê hy was nog altyd van mening dat Novak Djokovic die beste mansspeler ter wêreld is.

Die Fransman Patrick Mouratoglou is Serena Williams se afrigter. Foto: Getty Images

Die debat oor die beste speler van alle tye duur voort en die Franse breier skroom nie om te sê dat hy die Serwiese wêreldnommereen bo Rafael Nadal en Roger Federer verkies nie.

Djokovic (34) het Sondag in Parys een van die heel grootste oorwinnings van sy loopbaan behaal toe hy ’n agterstand van twee stelle teen nul in die Franse Ope-eindstryd teen Stefanos Tsitsipas uitgewis het en dié jong Griek in vyf stelle verslaan het.

Danksy dié sege kort Djokovic nou net een verdere Grand Slam-titel om Federer en Nadal se Slam-rekord van 20-enkelspeltitels te ewenaar. En met Wimbledon (waarin hy ’n vyfmalige kampioen is) en die Amerikaanse Ope (waarin hy drie titels het) oor op die kalender, kan hy teen September daardie rekord hou.

Novak Djokovic het Sondag sy tweede Franse Ope-titel verower. Foto: Getty Images

“Ons het ’n jaar lank al die gesigte gesien. Djokovic, op sy beste, is die taaiste om te klop. Hy is die beste van die drie (saam met Federer en Nadal), ek sê dit nog altyd,” sê Mouratoglou in ’n onderhoud met L’Équipe.

Djokovic spog met ’n wenrekord van 30-28 teen Nadal ná hul epiese halfeindstryd in Parys. Hy was ook al meer in die wenkampie in kragmetings teen Federer met ’n rekord van 27-23 teen die Switser.

Djokovic steek wel af teen Nadal in Grand Slam-toernooie (7-10), maar Nadal het nege van daardie oorwinnings by Roland Garros behaal. Djokovic se wenrekord teen Federer by majors is 11-5.

“Wanneer al drie op hul beste vertoon, is Djokovic die beste,” sê Mouratoglou.

“Die geskiedenis het dit bewys. Volgens my is hy die beste.

“Dit is jou grootste moontlike uitdaging wanneer jy Novak aandurf.” – Sportredaksie

Meer oor:  Novak Djokovic  |  Tennis  |  Roger Federer  |  Rafael Nadal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.