Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Serena se man kap verslag oor statistiek

Serena Williams se man, Alexis Ohanian, het vir haar in die bres getree deur ’n verslag te kap wat dié tennisster se aantygings van seksisme in die sportsoort glo verkeerd bewys.

Alexis Ohanian, Serena Williams se man. Foto: Getty Images

’n Artikel wat die naweek in The New York Times gepubliseer is, onthul dat manlike tennisspelers die afgelope tien jaar drie keer meer vir oortredings op die baan gestraf is as hul vroulike eweknieë.

Die verslag, wat saamgestel is deur Christopher Clarey, toon dat mans tussen 1998 en 2018 altesaam 1 517 boetes opgelê is vir oortredings in Grand Slam-toernooie. Daarteenoor is vroue net 535 keer beboet.

Serena Williams en Alexis Ohanian was gaste op prins Harry en Meghan Markle se troue vroeër vanjaar. Foto: Getty Images

Dié onthulling kom te midde van beskuldigings deur onder andere Williams dat skeidsregters seksisties is en dat mans meer simpatiek behandel word.

Die hele kwessie kom ná Williams se dramatiese Amerikaanse Ope-eindstryd teen Naomi Osaka, wat deur omstredenheid oorskadu is nadat Williams in ’n hewige rusie met die skeidsregter Carlos Ramos betrokke geraak het.

Stuff berig Ohanian, ook die stigter van Reddit, blyk ontsteld te wees omdat die verslag nie sy vrou se aantygings steun nie en voer aan persentasies mag dalk ’n ander prentjie skets.

Die verslag toon mans is 344 keer gestraf vir “hoorbare vloekwoorde” wat op die baan geuiter is, teenoor 140 boetes vir vroue.

“Die argument is dat vroue meer gereeld ‘per voorval’ gestraf word as mans,” sê Ohanian op Twitter.

“Hierdie data toon slegs daar is meer boetes vir mans in totaal.

“Byvoorbeeld, as mans 344 keer uit 3 440 gevalle gestraf is vir hoorbare vloekwoorde (10% toepassing), maar vroue 140 uit 700 (20% toepassing), beteken dit vroue word vir dieselfde oortreding twee keer meer as mans gestraf.”

Ohanian onthul ook ’n skenking van $7 140 wat hy aan die Donors Choose-liefdadigheidsorganisasie vir publieke skole gemaak het “om te verseker die volgende generasie kan basiese statistiek aanleer”.

Die verslag maak nie enige gevolgtrekking in verband met Williams se aantyging dat sy gestraf is vir teëpratery omdat sy ’n vrou is nie. Dit gee eenvoudig syfers vir Grand Slam-toernooie waarin mans die beste uit vyf stelle speel en vroue die beste uit drie stelle.

Dit sluit verder in dat van die 1 517 boetes wat die mans gekry het, was 649 vir rakette wat stukkend geslaan is, teenoor net 99 vir vroue. Mans is ook 286 keer teenoor vroue se 67 gestraf vir onsportiewe optrede.

– Sportredaksie

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.