Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Woedeaanval verdeel tenniswêreld

Die chaotiese einde aan die eindstryd vir vroue by vanjaar se Amerikaanse Ope-tennistoernooi het regoor die wêreld ’n vurige debat veroorsaak.

Serena Williams en Carlos Ramos spreek mekaar aan in die hitte van die oomblik. Foto: Getty Images

Meeste mense is in twee kampe verdeel – diegene wat meen Serena Williams se optrede was skandelik en diegene wat glo sy was ’n slagoffer van ’n oorentoesiastiese en selfs diskriminerende skeidsregterbeslissing.

Tenniskykers en die media verkeer die afgelope paar dae in ’n hewige meningsverskil, maar ABCSport berig selfs Williams se medespelers vind dit moeilik om konsensus te bereik.

Die wenner van 23 Grand Slam-titels is tydens Saterdag se wedstryd, wat sy met 2-6, 4-6 teen Naomi Osaka van Japan verloor het, gewaarsku vir ’n afrigtingsoortreding en met ’n punt gestraf nadat sy haar raket stukkend geslaan het.

Die Amerikaner het daarna heftig teenoor die skeidsregter Carlos Ramos uitgevaar en is uiteindelik met ’n pot gestraf.

Wat presies het gebeur?

1. Afrigtingsoortreding:

In die tweede stel, met Osaka in beheer, het die skeidsregter Ramos opgemerk hoe Serena Williams se afrigter, Patrick Mouratoglou, vir haar boodskappe met handgebare uit die spelershokkie stuur. Dít word as “afrigting op die baan” beskou en word verbied.

Williams het dit heftig ontken en gesê sy sal eerder verloor as om oneerlik te wees. Sy beskuldig die skeidsregter van seksisme.

Mouratoglou het egter later erken dat hy haar afgerig het tydens die wedstryd.

2. Strafpunt ná raket-voorval:

In die vyfde pot van die tweede stel, nadat Osaka teruggebreek het teen Williams, wat twee dubbelfoute begaan het, slaan die Amerikaner haar raket uit frustrasie stukkend.

Ramos straf Williams met ’n punt vir haar optrede, waarna sy na hom stap en vir hom sê: “Elke keer wat ek hier speel, het ek probleme. Ek is nie afgerig nie. Ek verneuk nie. Jy moet ’n aankondiging maak. Ek het ’n dogter en ek staan op vir wag reg is. Jy skuld my ’n verskoning.”

3. Williams met pot gestraf ná verbale aanval:

Ná die sewende pot in die tweede stel is Williams steeds onsteld oor die bewerings teen haar dat sy verneuk het. Sy loop Ramos weer tromp-op en sê vir hom: “Hoe durf jy my karakter in twyfel trek. Ek het nog nooit in my lewe verneuk nie. Jy sal nooit weer saam met my op ’n baan wees solank as wat jy lewe nie.

“Jy’s ’n leuenaar. Jy is my ’n verskoning verskuldig. Sê dit. Sê jy is jammer.”

Ná die tirade is Williams met ’n pot gestraf en was Osaka skielik 5-3, pleks van 4-3 voor.

Williams het Ramos toe ’n “dief” genoem. Sy telkens vir hom: “Dis onregverdig, dis onregverdig. Baie mans sê baie erger dinge op die baan, maar ek is die een wat gestraf word.”

4. Die trofee-seremonie:

Met die oorhandiging van die trofeë, was die skare se uitjouery oorverdowend. Dít het Osaka tot trane gedryf en sy trek haar pet oor haar oë om dit weg te steek.

Williams probeer die situasie toe ontlont en vra die toeskouers om op te hou met hul uitjouery. Sy wens toe vir Osaka geluk en sê hoe moeilike wedstryd dit vir haar was.

Williams het ondersteuning uit talle oorde ontvang. Die Amerikaanse tennislegende Billie Jean King het haar bedank dat sy “lig gewerp het op hierdie dubbele standaarde”, terwyl Victoria Azarenka meen “dit sou nooit so gebeur het as dit ’n manswedstryd was nie”.

Die Aussie Ash Barty en haar dubbelspelvennoot CoCo Vandeweghe van die VSA het ná afloop van hulle sege in die eindstryd saamgestem Ramos het fouteer.

“Ek dink dit was ’n swak beslissing, ek dink die skeidsregter moet daarvoor pa staan,” sê Vandeweghe.

“Ek dink daar bestaan antagonisme van die skeidsregters teenoor baie spelers. Sekere skeidsregters moet dopgehou word.”

Die gewese speler John McEnroe, berug vir sy uitbarstings op die baan, het ook Williams se kant gekies en gesê dis waar dat mans al met baie erger dinge op die baan weggekom het.

Steve Simon, grootbaas van die WTA-reeks het hom ook agter Williams geskaar.

“Die WTA is daaraan toegewyd om saam met die sport te werk om te verseker dat alle spelers dieselfde behandel word,” sê Simon.

“Ons glo nie dit was Saterdag die geval nie.”

Maar daar was nie alom ondersteuning vir Williams nie. Die voormalige Aussie-tennisspeler Casey Dellacqua sê sy is nie oortuig seksisme het ’n rol in die voorval gespeel nie.

“Ramos het ’n baie, baie goeie geskiedenis en is ’n uitstekende skeidsregter,” sê sy.

“In hierdie geval voel ek nie seksisme het ’n rol gespeel nie. Die sport het ongetwyfeld oor die jare met kwessies rondom geslag gesukkel en ek dink ons het in daardie opsig ver gevorder.

“Maar wat in hierdie wedstryd gebeur het, sake het met die afrigtingsoortreding begin lostorring en haar emosies het op hol gegaan.”

Dellacqua het Ramos se integriteit verdedig en meen die afrigting van spelers vanuit die spelershokkie is een van die moeilikste oortredings vir skeidsregters om oor te beslis.

“Ramos het al voorheen vir (Rafael) Nadal vir tydmors gestraf. Hy is ’n konsekwente skeidsregter en een van die bestes. Dit is sy kollegas wat dalk by hom afsteek.

“Afrigtingsoortredings is ’n moeilike kwessie. Dit gebeur so baie en ons sien dit gereeld. Handgebare, verbale kommunikasie en dies meer word nie altyd deur skeidsregters opgemerk nie.

“So ek kan Williams se frustrasie met die situasie verstaan. Dit was ’n emosionele kragmeting, punt, en dinge het net van daar af losgetorring.”

Die Aussie-legende Margaret Court, wat die rekord vir die meeste Grand Slam-titels hou (24), het Williams se optrede veroordeel.

“Ons moes altyd by die reëls hou. Dis jammer wanneer ’n speler groter as die reëls raak,” het sy in ’n onderhoud met The Australian gesê.

Richards Ings, ’n voormalige top-skeidsregter en voorheen ook die ATP-reeks se uitvoerende vise-president: rëels en kompetisie, sê Williams is die een wat jammer moet sê.

Ings het in die Amerikaanse Ope in 1987 vir McEnroe met ’n punt en toe ook ’n pot gestraf weens vulgêre taalgebruik teenoor die skeidsregter.

“Ons moenie dat haar rekord, so briljant as wat dit ook al is nie, die feit oorskadu dat sy in dié wedstryd die een was wat verkeerd opgetree het nie.”

– Sportredaksie, Reuters, Indian Express



Meer oor:  Carlos Ramos  |  Flushing Meadows  |  Tennis  |  Serena Williams  |  Wta  |  New York  |  Amerikaanse Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.