Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Sege Novak se ‘lekkerste oomblik’
Novak Djokovic (links) en die res van Serwië se tennisspan en afrigters nadat hulle Sondag die eerste toernooi om die ATP-beker in Sydney gewen het. Foto: Getty Images

Novak Djokovic het sy oorheersing van Rafael Nadal op hardebane voortgesit in Serwië se verowering van die eerste ATP-beker Sondag in Sydney.

Serwië het die Davisbeker-kampioenspan met 2-1 getroef toe hy die beslissende dubbelspelwedstryd gewen het. Djokovic het die telling vroeër met 1-1 laat gelyk trek ná sy oorwinning oor Nadal in die tweede enkelspel-kragmeting van die eindstryd.

Roberto Bautista Agut  het vroeër vir Dusan Lajovic met 7-5, 6-1 geklop om met sy sesde agtereenvolgende sege die Spanjaarde die voortou te gee.

Die wedstryd daarna tussen verlede jaar se finaliste in die Australiese Ope was ’n rekord- 55ste ontmoeting tussen die twee grotes van die spel, wat tans die twee voorste spelers op die wêreldranglys is.

Djokovic (tweede op die ranglys) was met 6-2, 7-6(4) baas vir sy 29ste sege oor Nadal. Dit was die negende keer agtereenvolgens op ’n hardebaan wat hy aan die wenkant teen die Spanjaard was.

Die 33-jarige Nadal het nou ook die laaste 19 stelle tussen hulle op hardebane volgens atptour.com verloor.

Djokovic was van meet af aan op sy stukke en het met deurbrake in die heel eerste pot en die sewende die eerste stel beklink.

Rafa Nadal van Spanje het alles gegee in sy enkelspelstryd teen Novak Djokovic, maar is in twee stelle geklop.Foto: Getty Images

Nadal het mooi teruggeveg in die tweede stel, maar nie sy kanse benut nie.

Hy het in die sesde pot van die tweede stel ’n gulde kans met vyf breekpunte verspeel om die voortou te neem.

Djokovic, wat homself op 0-40 uit die moeilikheid gedien het, was dit ná die tyd eens, dit was ’n keerpunt in die wedstryd.

“As hy daar deurgebreek het (om dit 4-3 te maak), kon die wedstryd maklik na ’n derde stel toe gegaan het,” het Djokovic gesê.

Nadal sal die komende Australiese Ope nietemin met vertroue binnegaan ná wat hy in die tweede stel vermag het.

“Ek het my kanse gehad. Dis was naby, ek is uiteraard nie so gelukkig om te moes verloor nie. Die gevoel van daardie tweede stel is egter positief,” het Nadal agterna gesê.

Djokovic het kort daarna teruggekeer vir die beslissende dubbelspelwedstryd waarin hy en Viktor Troicki Spanje se Carreno Busta en Feliciano Lopez met 6-3, 6-4 geklop het om die beker te lig.

Hulle was vroeg agter met 1-3, maar het toe met vyf agtereenvolgende potte die eerste stel beklink.

Djokovic het ná die kragmeting gesê die ervaring sal hom vir die res van sy lewe bybly en dat dit een van die lekkerste oomblikke van sy loopbaan is.

Meer oor:  Novak Djokovic  |  Tennis  |  Atp-Beker  |  Serwië  |  Sydney  |  Spanje  |  Rafa Nadal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.