Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Sinner maak afspraak met Nadal

Jannik Sinner het Saterdag die vierde ronde van die Franse Ope gehaal – én ’n afspraak gemaak met Rafael Nadal.

Die 19-jarige Italianer het sy tenniswedstryd in die derde ronde teen Mikael Ymer van Swede met 6-1, 7-5, 6-3 gewen.

Sinner het te veel skietgoed vir die Sweed gehad en hy sluit hom in die laaste 16 aan by sy landgenoot Lorenzo Musetti, ook 19 jaar oud.

Nadal het Cameron Norrie van Brittanje met 6-3, 6-3, 6-3 geklop.

Rafael Nadal Saterdag in die derde ronde van die Franse Ope in aksie teen Cameron Norrie. Foto: AP

Nadal het nou ’n ongelooflike 30 stelle agtereenvolgens op die rooi klei gewen. Hy het laas in 2019 se eindstryd ’n stel verloor – teen Dominic Thiem.

Die Spanjaard mik na sy 14de titel by Roland Garros.

Novak Djokovic, die eerste gekeurde, was onstuitbaar in sy wedstryd teen Ricardas Berankis. Die Serwiër het die Litauer met 6-1, 6-4, 6-1 afgeransel.

Die 2016-kampioen het 30 wenners gemoker en net 18 ongedwonge foute begaan. Die 34-jarige Djokovic het in sy drie wedstryde tot dusver nog nie ’n stel verloor nie.

Sy volgende teenstander is Musetti, wat nog ’n Italianer, Marco Cecchinato, met 3-6, 6-4, 6-3, 3-6, 6-3 geklop het.

Nadal en Sinner sal mekaar vir ’n tweede agtereenvolgende jaar pak. Die Spanjaard het die jongeling verlede jaar in die kwarteindronde geklop.

“Dit sal ’n goeie toets wees. Ek het reeds twee keer teen Rafa gespeel, maar dié keer gaan anders wees,” glo Sinner.

Musetti het die sesde manspeler sedert 2000 geword wat die vierde ronde haal in sy Grand Slam-debuut.

Jannik Sinner in aksie teen Mikael Ymer. Foto: Reuters

Sy volgende afspraak is met Djokovic.

John Isner, die Amerikaner met die groot afslaan, het Vrydagaand vir Stefanos Tsitsipas aan ’n ware toets onderwerp. Die 22-jarige Griek was uiteindelik met 5-7, 6-3, 7-6(3), 6-1 baas.

Tsitsipas sal in die vierde ronde teen Pablo Carreno Busta, die 12de gekeurde, te staan kom.

Roger Federer sou Saterdagaand teen Dominik Koepfer te staan kom.

• Iga Swiatek, verdedigende vrouekampioen, het met 1-3 agtergeloop voordat sy haarself reggeruk en Anna Kontaveit met 7-6(4), 6-0 geklop het.

Die 20-jarige Pool, die 8ste gekeurde, se volgende teenstander is Marta Kostyuk.

Coco Gauff is vir die eerste keer deur na die laaste 16 nadat haar teenstander, Jennifer Brady, weens ’n besering die handdoek ingegooi het.

Gauff (17) het die eerste stel in net 23 minute met 6-0 gewen. – Reuters, Sportredaksie

Meer oor:  Franse Ope  |  Rafael Nadal  |  Novak Diokovic
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.