Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Skeidsregters wil Serena glo boikot

Die skeidsregter midde-in die Serena Williams-herrie het sy stilte verbreek nadat sy beslissings en Williams se vurige reaksie in die eindstryd van die Amerikaanse Ope-tennistoernooi die afgelope week wêreldwyd opslae gemaak het.

Carlos Ramos, die skeidsregter midde-in die Serena Williams-herrie, gaan Vrydag weer terug in die stoel wees. Foto: USA TODAY Sports

Die 47-jarige Carlos Ramos het aan die Portugese koerant Tribuna Expresso gesê “onder die omstandighede gaan dit goed”.

“Dit was ’n ongelukkige situasie . . . maar moenie oor my bekommerd wees nie.”

Volgens dié Portugees het hy Sondag die strate van New York vermy omdat hy nie in “gekompliseerde situasies” betrokke wou raak nie.

Hy het ook bevestig dat hy Vrydag terug in die stoel sal wees vir ’n toernooi in Zadar, Kroasië.

Ramos, wat in sekere kringe deurgeloop het oor die strawwe wat hy Williams tydens die wedstryd opgelê het en deur die Amerikaanse speler en ander kritici van seksisme beskuldig is, kon homself nie direk ná Saterdagaand se dramatiese gebeure verdedig nie.

Skeidsregters word deur die Internasionale Tennisfederasie (ITF) verbied om kommentaar te lewer oor wedstryde waarin hulle betrokke is.

Serena Williams sê Carlos Ramos sleg nadat hy haar gestraf het tydens die eindstryd van die Amerikaanse Ope. Foto: USA TODAY Sports

Williams, die wenner van 23 Grand Slam-titels, is tydens die eindstryd, wat sy met 2-6, 4-6 teen Naomi Osaka van Japan verloor het, gewaarsku vir ’n afrigtingsoortreding en met ’n punt gestraf nadat sy haar raket stukkend geslaan het.

Die Amerikaner het daarna heftig teenoor Ramos uitgevaar en hom onder ander ’n “dief” genoem. Sy is uiteindelik met ’n pot gestraf vir haar uitbarsting.

Die ITF het wel ná die wedstryd vir Ramos in die bres getree en gesê hy is een van die mees gerespekteerde skeidsregters ter wêreld.

In die Britse media word daar intussen bespiegel dat skeidsregters in die toekoms wedstryde waarin Williams speel, kan boikot.

The Times berig top-skeidsregters is hoogs ontevrede oor die wyse waarop Ramos in die nadraai van die omstrede eindstryd behandel is.

Die Amerikaanse Tennisvereniging en WTA (die liggaam vir beroepsvrouespelers) het hulle by Williams geskaar en skeidsregters voel gevolglik hulle kry geen ondersteuning van tennisbase nie.

Hulle meen ook Ramos is vir die wolwe gegooi, terwyl hy net sy werk gedoen het.

Ramos het boonop glo net £370 (sowat R7 200), die standaard-vergoeding, vir die eindstryd ontvang en skeidsregters meen dis nie die moeite werd om vir só min geld blootgestel te word aan soveel kritiek nie. 

– Reuters, The Times, Sportredaksie

Meer oor:  Itf  |  Carlos Ramos  |  Tennis  |  Serena Williams  |  Wta  |  Naomi Osaka  |  Amerikaanse Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.