Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Skok op skok by Roland Garros in Parys
Jannik Sinner speel Sondag ’n voorarmhou in sy wedstryd in die vierde ronde teen Alexander Zverev. Foto: Getty Images

Sondag was ’n dag van opskuddings, en amperse opskuddings, in die Franse Ope-tennistoernooi.

Simona Halep, die eerste gekeurde vrou, is uitgeboender deur ’n 19-jarige Pool, Kiki Bertens is teruggestuur Nederland toe en ’n siek Alexander Zverev se veldtog is beëindig.

En ampertjies was Dominic Thiem ook ’n slagoffer.

Dié derde gekeurde Oostenryker, moes Sondagaand diep delf en op kritieke tye sy beste spel opdis om die jong Fransman Hugo Gaston se begeesterde veldtog te stuit.

Thiem het vyf stelle nodig gehad – 6-4, 6-4, 5-7, 3-6, 6-3 – om in 3 uur 32 minute die knoop deur te hak.

Die 20-jarige Gaston het die afgelope week talle aanhangers bygekry met sy voortreflike spel en veggees. Hy deins nie terug vir groot name nie en het Vrydag vir Stan Wawrinka, die 2015-kampioen, die trekpas gegee.

Iga Swiatek vier fees oor haar oorwinning oor Simona Halep. Foto: Reuters

Gaston het ’n promotorsuitnodiging na die toernooi gekry.

Thiem pak Diego Schwartzman in die kwarteindronde. Dié Argentyn het Italië se Lorenzo Sonego Sondag met 6-1, 6-3, 6-4 geklop.

Zverev, die sesde gekeurde, was nooit in beheer van sy vierderonde-wedstryd teen die 19-jarige Italianer Jannik Sinner nie.

Sinner het met sy oorwinning van 6-3, 6-3, 4-6, 6-3 die eerste debutant sedert Rafael Nadal in 2005 geword om die kwarteindronde van die Franse Ope te haal.

Ongelukkig vir Sinner is dié einste kleibaan-veteraan volgende op sy pad. Nadal het Sondag nié onder die verloorders getel nie.

Hy het die Amerikaanse kwalifiseerder Sebastian Korda in ’n eensydige stryd met 6-1, 6-1, 6-2 van die baan gevee en ’n tree nader gegee aan ’n 13de titel op Roland Garros.

So ampertjies. Die jong Fransman Hugo Gaston is Sondag die ene konsentrasie in sy wedstryd in die vierde ronde teen Dominic Thiem van Oostenryk. Foto: Getty Images

Sinner was komkommerkoel teen sy Duitse teenstander, wat koorsig was, gehoes het en met sy asemhaling gesukkel het.

Zverev het gesê hy was siek sedert sy oorwinning Vrydag oor Marco Cecchinato van Italië en sy temperatuur was by tye 38 grade Celsius.

Hy wou nie sê wanneer sy laaste Covid-19-toets was nie en sy ongemak het vrae laat ontstaan oor die protokol by die toernooi in Parys.

Sinner het die eerste keer in die toernooi ’n stel afgestaan, maar steeds voortgegaan om die bal baie vroeg te tref.

Die Italianer is ook die jongste manspeler in die kwarteindronde sedert Novak Djokovic in 2006.

Iga Swiatek van Pole, 54ste op die wêreldranglys, was in net meer as ’n uur baas met 6-1, 6-2 teen Halep om die eerste keer die kwarteindronde van ’n Grand Slam-toernooi te haal.

Die Roemeen was verlede jaar in dieselfde ronde in 45 minute met 6-1, 6-0 aan die wenkant teen Swiatek.

“Iga het ongelooflik gespeel. Sy was oral op die baan en het al die balle met krag gespeel,” het Halep, die 2018-kampioen, gesê.

Verlede jaar se kragmeting was Swiatek se eerste wedstryd in ’n groot stadion.

“Ek was onervare en was erg gestres.

“Sedertdien het ek groot vordering getoon en ’n paar groot wedstryde gespeel. Dit het my baie gehelp. Ek dink ek kan nou die druk hanteer,” het Swiatek gesê.

Sy het gesê sy het alles gedoen wat haar afrigter vir haar oor taktiek gesê het. “Dit was byna ’n perfekte wedstryd vir my.

“Ek was nie bang oor verlede jaar se nederlaag nie. Dit het my gemotiveer om beter te speel,” het sy gesê.

Halep het voor die Franse Ope kleibaantitels in Praag en Rome gewen en in die afwesigheid van Ashleigh Barty, die verdedigende kampioen, was sy die oorweldigende gunsteling om ’n derde Grand Slam-trofee in te palm.

Swiatek het die wedstryd aggressief begin en die rooi klei met wenners bestook.

Sy het 30 wenners gemoker teenoor Halep se 12. Die Poolse speler het nie ’n enkele breekpunt teen haar gehad op haar afslane nie.

Dié voormalige Wimbledon junior kampioen se volgende teenstander is die Italiaanse kwalifiseerder Martina Trevisan, wat Bertens, die vyfde gekeurde, met 6-4, 6-4 geklop het.

Trevisan het die eerste kwalifiseerder in agt jaar geword om die kwarteindronde van die Franse Ope te haal.

Nog ’n Franse gunsteling het Sondag geval toe Elina Svitolina, die derde gekeurde, die kwarteindronde gehaal het met ’n sege van 6-1, 6-3 oor Caroline Garcia.

Stefanos Tsitsipas kom Maandag te staan teen Grigor Dimitrov en Novak Djokovic is die groot klip in Karen Khachanov se pad. – Reuters, Sportredaksie

Meer oor:  Parys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.