Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Skors Kyrgios, sê legendariese Laver

Die tennislegende Rod Laver het ’n beroep gedoen op die Vereniging van Beroepstennisspelers (ATP) om Nick Kyrgios weens sy swak gedrag te skors.

Rod Laver sê Nick Kyrgios ‘se brein kom in die pad’. Foto: Getty Images

SuperSport berig Laver meen dit blyk asof sy Australiese landgenoot nie uit sy eie foute wil leer nie.

Kyrgios (24) is berug vir sy vloermoere en word deur die ATP ondersoek nadat hy die beheerliggaam verlede week by die Amerikaanse Ope as “korrup” beskryf het.

Hoewel hy later sy uitlatings teruggetrek het, is hy verlede maand met $113 000 (R1,7 miljoen) beboet vir sy uitbarsting by die Cincinnati-meesterstoernooi.

Kyrgios het sonder toestemming die baan verlaat om twee rakette stukkend te slaan. Hy het ook sy skoene tussen die toeskouers ingegooi en boonop in die skeidsregter se rigting gespoeg nadat hy hom ’n “f***** p***” genoem het en geweier het om sy hand te skud.

Kyrgios is gewaarsku dat hy moontlik nóg ’n skorsing uit die sport kan verwag sodra die ATP ’n deeglike ondersoek na die saak afgehandel het.

Laver, beskou as een van tennis se grotes, sê tyd weg van die spel kan die antwoord wees vir Kyrgios.

“Wat hulle ook al sover gedoen het werk nie, so miskien is ’n skorsing die enigste antwoord,” sê die wenner van 11 Grand Slam-titels.

“Ek is nie seker hy het enigiets geleer uit sy foute nie.”

Nick Kyrgios word al vir meeste van sy loopbaan met omstredenheid vereenselwig. Foto: Getty Images

Kyrgios is reeds gekies om mee te ding in ’n toernooi wat na Laver vernoem is, die Laver-beker, in Geneva volgende maand.

Die talentvolle speler word al vir meeste van sy loopbaan met omstredenheid vereenselwig.

Hy is in 2015 beboet toe hy in Kanada seksueel onvanpaste opmerkings oor die meisie van die driemalige major-kampioen Stanislas Wawrinka gemaak het.

Die jaar daarna is hy vir agt weke geskors nadat hy daarvan beskuldig is dat hy ’n lustelose poging by die Shanghai-meesterstoernooi gelewer het.

“Nick is Nick, ongelukkig,” sê Laver. “Hy kon, of kan steeds, ’n wêreldkampioen wees danksy ’n uitstekende afslaan en goeie algemene spel.

“Maar sy brein kom in die pad.”

– Sportredaksie

Meer oor:  Tennis  |  Nick Kyrgios  |  Amerikaanse Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.