Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Skreeuende Serena seëvier oor Sloween

As jy ’n telling van 6-2, 6-3 sien – en opmerk dat die vrou in die wenkamp ene Serena Williams is – is dit maklik om aan te neem dat sy maar net nóg ’n speler ’n tennisles gegee het.

Maar tennistellings kan natuurlik misleidend wees . . .

Serena Williams het Woensdag in die tweede ronde in die Australiese Ope net vyf potte verloor, maar Tamara Zidansek het haar in elk geval tot in haar kleintoontjie gefrustreer. Foto: Reuters

Die 23-malige Grand Slam-kampioen het wel Woensdag in Melbourne haar plek in die derde ronde van die Australiese Ope bespreek, maar nie voordat die jong Tamara Zidansek haar tot op die randjie van ’n vloermoer gefrustreer het nie.

Die 38-jarige Amerikaner het in die eerste stel skaars gesweet terwyl sy haar Sloweense teenstander aan haar reputasie en vermoëns herinner het. Sy het 13 wenhoue geslaan en slegs een punt op haar eie eerste afslaan verloor. Sy het gaan rus met die rustigheid van iemand wat reeds een voet in die derde ronde het.

Maar aan die ander kant van die skeidsregter se stoel het die 22-jarige Zidansek skynbaar besef sy het niks oor om te verloor nie, maar tonne respek om te wen. Dít was in elk geval die positiewe benadering waarmee sy die tweede stel binnegegaan het.

Die jong Sloween het skielik met veel meer vryheid gespeel en Williams ’n paar keer verras met haar aggressie. Maar niks was so indrukwekkend soos haar veggees nie. Dit het haar in staat gestel om sewe breekpunte binne net twee potte af te weer en desperate krete uit Williams te dwing.

Die Amerikaner het nog nie vanjaar verloor nie en verlede week vir die eerste keer sedert haar dogter se geboorte in September 2017 ’n titel gewen. Dis te verstane dat sy gedink het sy sal enigiets wat Zidansek na haar kant toe gooi kon hanteer, maar sy het dit vir haarself baie moeilik gemaak deur 17 ongedwonge foute in die tweede stel te maak.

Uiteindelik het die sewemalige Australiese Ope-kampioen wel ’n tweede asem gekry wat haar oor die eindstreep gedra het, maar sy sal die toets wat Zidansek haar gegee het, nie gou vergeet nie.

“Dit was ’n goeie wedstryd vir my,” het Williams ná haar sege gesê. “Sy is ’n ware vegter en het my nie net laat wen nie. Ek het geweet ek moet verbeter of anders ’n baie lang aand hê.”

Coco Gauff het daarin geslaag om haarself uit ’n diep gat te grawe in haar tweederonde-stryd teen Sorana Cirstea. Foto: AP

* Melbourne Park sal in die derde ronde gasheer speel vir Naomi Osaka en die tienerster Coco Gauff, twee vroue wat wêreldtennis die afgelope twee jaar op horings geneem het.

Die 15-jarige Gauff, wat verlede jaar die vierde ronde in Wimbledon gehaal het en in die derde ronde van die Amerikaanse Ope teen einste Osaka gevou het, het nog geensins grootoog gelyk in haar eerste besoek aan die Melbourne-Slam nie.

Woensdag het sy te veel skietgoed gehad vir Roemenië se 29-jarige Sorana Cirstea en het in twee uur en 6 minute met 4-6, 6-3, 7-5 geseëvier.

Gauff was wel kniediep in die moeilikheid op 0-3, 0-30 in die derde stel, maar het diep gedelf om sake om te keer.

“Ek het alles verander en besluit om meer aggressief te wees,” het sy volgens Forbes verduidelik.

“Die hele wedstryd deur het ek geweet ek moet aggressiewer wees en ek wens ek het dit vroeër begin doen. Maar dis oukei.”

Osaka moes self ’n opdraand oorkom voordat sy die Chinees Saisai Zheng met 6-2, 6-4 kon verslaan.

Zheng was in die tweede stel met 4-2 voor, maar Osaka het gesê die skare se opgewondenheid daaroor het haar aangevuur.

* Onder die ander oorwinnaars Woensdag is die eerste gekeurde Ashleigh Barty (6-1, 6-4 teen Polona Hercog), sewende gekeurde Petra Kvitová (7-5, 7-5 teen Paula Badosa) en die 2018-kampioen Caroline Wozniacki (7-5, 7-5 teen Dayana Yastremska).

Meer oor:  Australiese Ope  |  Tennis  |  Serena Williams  |  Coco Gauff  |  Naomi Osaka
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.