Sonbaai langs die venster, balle slaan teen ’n matras en naellope in die gange – dit is van die kreatiewe dinge wat tennisspelers doen terwyl hulle ’n sieldodende 14 dae in hul hotelkamers in Australië deurbring.

Barbora Strycova is een van meer as 70 tennisspelers in Melbourne, wat kreatiewe maniere bedink om haar self besig te hou terwyl sy 14 dae in haar hotelkamer in kwarantyn moet deurbring. Foto: Getty Images
Passasiers op drie huurvlugte wat spelers na Melbourne gebring het vir Februarie se Australiese Ope is vanweë positiewe koronavirusgevalle aangesê om twee weke in hul hotelkamers in afsondering deur te bring.
Dié meer as 70 spelers word nie toegelaat om buite hul hotelkamers te oefen vir die jaar se eerste Grand Slam-toernooi wat op 8 Februarie begin nie.
Spelers wat op ander huurvlugte in Melbourne aangekom het, is ook in kwarantyn, maar mag hul hotelkamers vir vyf uur per dag verlaat om te oefen.
“Ek is oorgehaal om, ten spyte van die omstandighede, alles moontlik te doen om myself reg te kry vir die toernooi. Dis tyd om kreatief te raak,” het Ons Jabeur van Tunisië getwiet en ’n video bygesit van haar wat ’n tennisbal teen ’n matras slaan.
Barbora Strycova, die wêreld se nr. 38, het op haar beurt ’n video van haar op ’n oefenfiets opgelaai en het geskerts dat sy haar ware roeping gevind het.
Pablo Cuevas van Uruguay het ’n video van hom opgelaai wat sonbaai langs die venster in sy kamer. Vroeër het hy ook gemaak asof hy branders op sy matras ry.
Reilly Opelka van Amerika dink egter nie dié video’s is baie snaaks nie en sê spelers behoort net dankbaar te wees dat hulle in Melbourne kan wees vir die Australiese Ope.
“Ek dink nie spelers wat video’s plaas van hul kwarantynoefeninge is juis snaaks nie. Ons het dié goed ses maande terug al gesien. Dis nie iets om oor die gek te skeer nie. Ons kan onsself as baie gelukkig ag dat ons hier kan wees,” sê Opelka op Twitter. – Reuters