Die Suid-Afrikaanse tennisspeler Kevin Anderson sê sy onvermoë om aan te pas toe Roger Federer Donderdagaand in Londen voet op die petrol gesit het, was sy doodskoot.
Anderson het die wedstryd teen Federer – sy laaste groepwedstryd van die ATP-reeks se Jaareindtoernooi – binnegegaan met die wete dat hy reeds die eerste Afrika-speler ooit is om in die 48-jarige bestaan van die toernooi die halfeindronde te haal.

Kevin Anderson het vandeesweek puik spel opgedis in Londen. Foto: Getty Images
Maar die soet is opgevolg deur suur, toe die Switser Federer met hom kat en muis gespeel het onderweg na ’n skoonstel-sege.
Voor dit het Anderson puik spel gelewer om af te reken met Dominic Thiem en Kei Nishikori. Donderdag was Federer egter in ’n ander klas as daardie twee.
“Ek kon nie lekker aanpas by sommige dinge wat hy na my kant toe gegooi het nie. Hy het die spoed van die bal goed aangepas,” het Anderson gesê.
Anderson het homself lelik in die voet geskiet met dié nederlaag, aangesien hy daarmee ’n halfeind-afspraak met die vuurwarm Novak Djokovic gemaak het.
Die Suid-Afrikaner kon weens die loesing net tweede in die Lleyton Hewitt-groep eindig. Djokovic het eerste in die Guga Kuerten-groep geëindig ná net twee wedstryde.
Anderson en Djokovic sal dus Saterdagaand om 22:00 (SA tyd) in ’n herhaling van die Wimbledon-eindstryd wat Djokovic in skoon stelle gewen het, wees.
Die uitslag van Djokovic se kragmeting laat vanaand met Marin Cilic is van bloot akademiese belang, aangesien Alexander Zverev tweede geëindig het.
Zverev het John Isner Vrydagmiddag met 7-6(5), 6-3 geklop om ’n ontmoeting met Federer (Saterdagmiddag om 16:00) te verseker.
Die 37-jarige Federer het met sy oorwinning van 6-4, 6-3 oor Anderson die 15de keer in 16 verskynings in dié toernooi die halfeind gehaal, en vir die 14de keer boaan sy groep geëindig.
* Sou Federer Sondag die toernooi wen, sal hy sy 100ste titel verower. Net Jimmy Connors, met 109, het al meer titels op sy kerfstok.
* Raven Klaasen van Suid-Afrika en sy Nieu-Seelandse vennoot, Michael Venus, is Donderdag in die dubbelspel uitgeskakel.
Juan-Sebastian Cabal en Robert Farah van Colombia het Klaasen-hulle met 6-3, 7-6(5) geklop. Ironies genoeg is Cabal-hulle se afrigter die Suid-Afrikaner Jeff Coetzee.
TV: Saterdag om 16:00 en 22:00 op SS 6. – Reuters; Sportredaksie