Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Spanjaard troef Thiem, Osaka beboet
Pablo Andújar van Spanje het vir Dominic Thiem getem.Foto: Getty Images

Die 35-jarige Pablo Andújar van Spanje het vir die eerste opskudding by vanjaar se Franse Ope gesorg toe hy die vierde gekeurde Dominic Thiem Sondag in die eerste ronde uitgeskakel het.

Andújar was ná vier uur en 28 minute in vyf stelle met 4-6, 5-7, 6-3, 6-4, 6-4 baas teen die Amerikaanse Ope-wenner van verlede jaar, wat in 2019 ook ’n finalis op Roland Garros was.

Andújar het vroeër in Roger Federer se eerste wedstryd op klei vanjaar met die Switserse maestro afgereken en toe die halfeindronde in Genève gehaal.

“Dis baie spesiaal vir my om dit op 35-jarige ouderdom te kon vermag, ek weet nie hoeveel langer ek nog gaan speel nie,” het Andujar ná Sondag se wedstryd gesê.

Dis baie spesiaal vir my om dit op 35-jarige ouderdom te kon vermag, ek weet nie hoeveel langer ek nog gaan speel nie.
Pablo Andújar

Hy het sy eerste sege oor ’n topvyf-speler as “ ’n ware geskenk” beskryf.

Dis die eerste keer dat Thiem in die eerste ronde in Parys uitgeboender word.

Hy het weliswaar vroeër die halfeindronde in Madrid gehaal, maar het onlangs in Lyon ook sy eerste wedstryd verloor.

Dit was die eerste keer in Andújar se loopbaan dat hy ’n wedstryd gewen het nadat hy die eerste twee stelle verloor het.

Andújar, 68ste op die wêreldranglys, het in die eerste pot van die beslissende vyfde stel ’n deurbraak bewerkstellig, maar kon toe net daarna ook nie sy eerste afslaanpot behou nie.

Die Spanjaard het toe in die vyfde pot van die stel weer die voortou geneem. Hy het dié keer nie toegelaat dat Thiem dit weer gelykop maak nie en het in die 10de pot van die stel vir die wedstryd afgeslaan. Hy het die eerste van sy twee wedstrydpunte benut en Thiem moes sy tasse pak vir ’n vroeë terugkeer na Oostenryk.

Naomi Osaka van Japan in aksie in die eerste ronde teen Patricia Maria Tig van Roemenië op die eerste dag van die Franse Ope op Roland Garros. Foto: Getty Images

Naomi Osaka van Japan se sege in die eerste ronde is oorskadu deur ’n boete omdat sy, soos sy vooraf gesê het sy sou doen, geweier het om ná die tyd met die media te praat.

Sy kan uitgeskop word uit die toernooi as sy dit weer doen.

Die tweede gekeurde Osaka het haar 15de agtereenvolgende wedstryd in ’n Grand Slam-toernooi gewen toe sy Patricia Maria Tig van Roemenië geklop het.

Osaka was met 6-4, 7-6(4) aan die wenkant teen Tig, wat 63ste op die wêreldranglys is.

Osaka het die laaste twee Grand Slam-toernooie waarin sy gespeel het gewen, maar was nie verlede jaar in die Franse Ope in aksie nie. Sy kon nog nooit verder as die tweede ronde in Parys vorder nie.

Sy was Sondag in ’n uur en 47 minute aan die wenkant in slegs haar tweede wedstryd op klei vanjaar.

Tig het verlede jaar die derde ronde gehaal. Dit was haar eerste wedstryd nog teen ’n top10-speler.

Osaka kom in die tweede ronde teen nog ’n Roemeense speler, Ana Bogdan, te staan.

Osaka het voor die toernooi gesê weens kommer oor die impak van nuuskonferensies op spelers se geestesgesondheid sal sy nie die media vanjaar te woord staan nie.

Sy het wel agterna met die gebruiklike onderhoud op die baan met Fabrice Santoro gepraat.

Hopelik hoe meer ek speel, hoe beter sal dit gaan.
Naomi Osaka

Sy het gesê sy vind nog haar voete.

“Hopelik hoe meer ek speel, hoe beter sal dit gaan."

Sy het egter nie daarna met die media gaan praat nie.

Osaka is met meer as R200 000 daaroor beboet.

Die spelers moet as deel van hul kontrakte ná wedstryde die media te woord staan.

Angelique Kerber

Die voormalige nommer 1-speler Angelique Kerber van Duitsland se treurmare op Roland Garros het voortgeduur toe sy deur ’n kwalifiseerder verras is.

Kerber (33) het daarmee die vyfde keer in die laaste ses jaar nie die eerste ronde in Parys oorleef nie.

Anhelina Kalinina van die Oekraïne het die driemalige Grand Slam-wenner met 6-2, 6-4 verslaan. Kalinina het vooraf ter kwalifisering nie een stel in haar drie wedstryde verloor nie.

Spanje se Paula Badosa, die wenner van die onlangse toernooi in Belgrado, het daarop voorgebou toe sy Amerika se Lauren Davis met 6-2, 7-6(3) geklop het.

Vier voormalige vroue-wenners op Roland Garros – Serena Williams, Iga Swiatek, Garbine Muguruza en Jelena Ostapenko – is Maandag in aksie. – Sportredaksie, rolandgarros.com

Meer oor:  Dominic Thiem  |  Naomi Osaka  |  Parys  |  Frankryk  |  Tennis  |  Kleibaantoernooi  |  Ope  |  Grand Slam
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.