Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Spelers mor oor ongelyke kwarantyn

Die organiseerders van die Australiese Ope moes gister omtrent vure doodslaan, nadat 72 spelers aangesê is om in streng kwarantyn te gaan omdat persone op hul onderskeie vlugte na Melbourne positief vir Covid-19 getoets is.

Volgens die Sydney Morning Herald het vyf persone op drie van die huurvlugte wat Australië toe gevlieg het positiewe Covid-uitslae gekry.

Die nuutste van dié uitslae is gevind by ’n persoon wat Saterdagoggend vanuit Doha in Melbourne geland het. Daar was 58 passasiers, wat 25 spelers (hoofsaaklik kwalifiseerders) ingesluit het, op die vlug.

Die geaffekteerde persoon is volgens die BBC nie deel van ’n speler se gevolg nie en het in die 72 uur voor die vlug negatief getoets.

SHENZHEN, CHINA - OCTOBER 27: Sylvain Bruneau, coa
Sylvain Bruneau. Foto: Getty Images
Drie ander gevalle was op ’n huurvlug vanaf Los Angeles en ’n vyfde het uit Abu Dhabi gevlieg. Laasgenoemde is Sylvain Bruneau, die afrigter van 2019 se Amerikaanse Ope-kampioen, Bianca Andreescu.

Andreescu was een van 23 spelers op daardie vlug.

Bruneau het in ’n verklaring van Tennis Kanada gesê hy het binne 72 uur voor sy vlug nog negatief getoets en “heeltemal oukei” gevoel toe hy op die vliegtuig geklim het.

Onder die spelers op die Los Angeles-vlug tel die voormalige kampioene Victoria Azarenka en Angelique Kerber, die Japanner Kei Nishikori en die Amerikaners Sloane Stephens en Tennys Sandgren.

Sandgren het kort voor die vlug ’n positiewe uitslag gehad, maar is toegelaat om te reis omdat gevind is dat dit te wyte was aan “virale fragmente”.

Hy het in November Covid-19 gehad en sy toets in Melbourne het ’n negatiewe uitslag opgelewer.

Die persone op die Los Angeles-vlug wat positief getoets is, is ’n bemanningslid, ’n afrigter en ’n lid van een van die uitsaaispanne.

Die geval op die Doha-vlug voer die getal persone wat vir die volgende twee weke nie hul hotelkamers mag verlaat nie na 125. Vir 31 van hulle is dit niks anders as wat hulle vooraf verwag het nie, maar vir die 72 spelers wat onder hulle tel, is dit ’n yslike nekslag.

Spelers het spesiale toestemming om vir vyf ure per dag hul kamers te verlaat om te gaan oefen – maar dié wat op die geaffekteerde vlugte was het daardie reg nou verbeur.

Dit is met woede begroet deur sommige spelers.

Roemenië se Sorana Cirstea, nr. 71 op die wêreldranglys, het op sosiale media uitgevaar.

“As hulle vooraf vir ons van dié reël vertel het, sou ek nie in Australië kom speel nie. Ek sou by die huis gebly het,” het sy gesê.

“Hulle het vir ons gesê vlugte sal net 20% vol wees, opgedeel word en dat ons net in geslote isolasie sou wees indien my span positief toets.”

Ek verstaan die emosies waardeur die spelers gaan en hul teëstribbeling. Maar dit was altyd in die hande van die gesondheidsdepartement om te besluit wie nabye kontakte is.
Switserland se Belinda Bencic sê sy en die ander spelers word nou benadeel.

“Ons kla nie daaroor om in kwarantyn te wees nie. Ons kla oor ongelyke oefen-/speeltoestande voor taamlik belangrike toernooie,” sê sy.

Belinda Bencic is een van talle spelers wat ongelukkig is omdat hulle voor die Australiese Ope in streng kwarantyn geplaas is. Foto: Getty mages
Craig Tiley, die direkteur van die Australiese Ope, het egter gesê die spelers was vooraf bewus dat strenger kwarantyn wag as iemand op hul vliegtuie positief toets.

“Ons het dit van die begin af duidelik gemaak dat daar ’n risiko is dat iemand positief kan toets en vir 14 dae in afsondering moet gaan, en dat daar ’n risiko was dat almal op die persoon se vlug as ’n nabye kontak beskou sou word,” het hy aan Nine Network gesê.

“Ek verstaan die emosies waardeur die spelers gaan en hul teëstribbeling. Maar dit was altyd in die hande van die gesondheidsdepartement om te besluit wie nabye kontakte is, en hulle doen wat hulle glo nodig is om ons gemeenskap veilig te hou.”

Tiley het bygevoeg daar is geen planne om die Australiese Ope af te stel nie. Tennis Australië kyk wel na alternatiewe planne vir die opwarmingstoernooie wat in die aanloop tot die Grand Slam-toernooi gehou sal word.

“Ons is besig om die skedule te hersien en te kyk na wat ons kan doen om die spelers te help,” het Tiley gesê.

“Die Australiese Ope gaan voort en ons gaan aanhou om ons beste te doen om te verseker dat daardie spelers die beste geleentheid het.” – Sportredaksie, Reuters

Meer oor:  Bianca Andreescu  |  Belinda Bencic  |  Craig Tiley  |  Melbourne  |  Kwarantyn  |  Australiese Ope  |  Tennis  |  Victoria
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.