Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Spoedbulte weerhou KG nie van geskiedenis

Die Suid-Afrikaanse rolstoel-tennisster Kgothatso (KG) Montjane het nie net verlede week twee hoë pieke op die grasbane van Wimbledon bestyg nie, sy het dit boonop gedoen net drie weke nadat haar afrigter haar die rug toegekeer het.

Kgothatso Montjane verlede week by Wimbledon, waar sy die afgelope naweek in twee eindstryde gespeel het. Nou, sê sy, het sy die selfvertroue om van ’n Paralimpiese medalje te droom. Foto: AP

Montjane het Vrydag binne enkele ure vir die Wimbledon-eindstryd in die rolstoel-kategorie se vroue-enkel- én dubbelspel gekwalifiseer. Sodoende het sy die eerste swart Suid-Afrikaanse vrou geword wat op die laaste naweek van dié grasbaan-major in aksie is.

Hoewel sy in albei dié eindstryde verslaan is, was Montjane Maandag steeds baie tevrede met wat sy bereik het – veral omdat dit voorafgegaan is deur weke van chaos.

“My afrigter (Siyabulela Nkachela) het drie weke voor die toernooi bedank sonder om ’n rede te gee,” het sy tydens ’n virtuele nuuskonferensie gesê. “Ek was gelukkig dat ek nie alleen in Europa was nie en darem iemand hier gehad het wat my kon help oefen, maar ek het steeds nie geweet wat om te verwag nie.

“Ek was nie in sak en as daaroor nie, dis een van daardie dinge – deel van sport. En ek voel jou sukses as atleet hang meer van jou eie harde werk en talente af as van jou afrigter. Maar dit was steeds nie ideaal nie.

“Ek beskou myself wel as iemand wat altyd ’n oplossing vir elke probleem soek en kon dit weer in hierdie paar weke doen. Voor die Franse Ope was ek byvoorbeeld tien dae in kwarantyn, maar ek het steeds my eerste wedstryd daar gewen en so baie selfvertroue vir Wimbledon gekry.

Toe het ons boonop ’n stryd gehad om vir my blyplek in Londen te kry vir Wimbledon, maar ek is baie dankbaar dat daar mense (in Suid-Afrika) was wat moeite gedoen het om my daarmee te help.

Montjane het ook onthul dat sy met ’n seer rug vir albei haar eindstryde (die dubbelspel Saterdag en enkelspel Sondag) aangetree het. Dit nadat sy Vrydag net ’n uur gehad het tussen ’n enkelspel-halfeindstryd en dubbelspel-halfeindstryd, wat albei drie stelle geduur het.

“Voor die dubbels-eindstryd was daar ’n gedagte om dalk nie voluit te gaan nie omdat my rug so seer was, maar dis nie regtig wie ek is nie. Vir die enkelspel-eindstryd was ek vol pynmedisyne, maar ek wou nie onttrek nie. Hulle (die Wimbledon-organiseerders) het dit so spesiaal vir ons gemaak, ons op ’n groot baan gesit en alles. Ek kon nie daarvan wegstap nie.

“Ek het daaruit geleer; ek weet nou hoe ’n groot tol vyf opeenvolgende wedstryde van jou liggaam kan eis, en sal in die toekoms beter voorbereid wees daarop. Maar ek is baie trots dat ek wel daardie twee eindstryde kon haal en vir almal kon wys waartoe ek in staat is,” sê sy.

Montjane sê sy het die Wimbledon-toernooi eerstens beskou as voorbereiding vir die Paralimpiese Spele, waar sy hoop om die eerste naweek van September op die podium te eindig.

“Ek het in hierdie toernooi gemaak asof ek by die Spele is. Toe ek die halfeind haal, het ek vir myself gesê nou is die medaljes in sig. En toe ek dit wen, kon ek sê dis goed genoeg vir ’n plek op die podium,” sê sy.

“Wat ek nou by Wimbledon gedoen het, is ’n groot hupstoot vir my selfvertroue. My doelwitte vir die Paralimpiese Spele is klaar gestel – nou weet ek dis moontlik om daarby uit te kom.”

Meer oor:  Kgothatso Montjane  |  Wimbledon  |  Tennis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.