Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Spyker in Groot 3 van tennis se kis?

Vir meer as ’n anderhalwe dekade het die tenniswêreld Planeet Aarde bederf met ’n groep spelers soos nog nooit gesien is nie.

Nie een superster nie, maar drie, wat tussen hulle 45 van manstennis se laaste 68 Grand Slam-enkelspeltitels gewen het.

Vir die loopbaan van Roger Federer, die oudste van hulle, word doodsberigte al vir die grootste deel van die afgelope dekade voorberei. Die vurigste van hulle, Rafael Nadal, voer al amper ewe lank ’n vuurwarm stryd teen die beseringspook. En die knaendste van hulle, Novak Djokovic, moes net verlede jaar veg teen die vermoede dat ’n gekrokte lyf en gebrek aan motivering sy drome sou verongeluk.

Stefanos Tsitsipas baai in glorie ná sy titelsukses in verlede week se jaareindtoernooi.Foto’s: Getty Images
Dominic Thiem
Alexander Zverev

En tog is die Groot Drie almal steeds staande. Selfs Andy Murray, wat eens nóg ’n mitiese groep, die Groot Vier, voltooi het, het soos ’n feniks uit die as verrys.

Daar is nou egter al hoe meer stemme wat vra hoe lank ons nog bederf gaan word met die goue era van die Groot Drie. Dis amper asof mense uitgekuier is met hierdie soetste van geregte en smag na ’n nuwe spyskaart.

’n Nuwe spyskaart is inderdaad verlede week voor die tennisgemeenskap neergesit toe die sport se jong Turke die ATP-reeks se jaareindtoernooi oorheers en gate gepons het in die aura van onoorwinlikheid waarmee menere Federer, Nadal en Djokovic steeds spog.

Vir net die derde keer in die afgelope 16 jaar was geeneen van die drie in die eindtoernooi se eindstryd nie, met die 21-jarige Stefanos Tsitsipas en 26-jarige “Prins van Klei”, Dominic Thiem, die laaste mans staande.

Federer was die enigste van die Groot Drie wat die halfeindronde kon haal, met sowel Nadal as Djokovic wat nie in die toptwee in hul onderskeie groepe kon eindig nie. En in die uitspeelronde het Federer nie naastenby genoeg skietgoed gehad om ’n geïnspireerde Tsitsipas te stuit nie.

Op die golf van selfvertroue wat daardie vertoning hom gegee het, het Tsitsipas in die laaste twee stelle van die eindstryd min­agtend oor Thiem gerol, om die jongste wenner in 18 jaar van die jaareindtoernooi te word.

tennis titels
Geskiedenis wys reuse-taak wag op Jong Turke...

Dat soveel doodsberigte oor die Groot Drie nou weer, ná die weeklange ATP-eindtoernooi geskryf word, is vreemd as jy in ag neem dat dit nie die laaste paar jaar ’n wonderlike voorspeller vir volgehoue sukses was nie.

Grigor Dimitrov – wat as melkbaard die bynaam Baby Fed gehad het omdat sy speelstyl soveel aan Federer s’n herinner – het die toernooi in 2017 vir die eerste keer gewen. Dadelik is gesê dat hy gereed is om die groot dinge wat al so lank vir hom voorspel is, te bereik.

In die twee jaar sedertdien kon hy nie weer wen nie.

Verlede jaar het Alexander Zverev (toe self net 21) die tiende trofee van sy loopbaan huis toe geneem deur sy eerste ATP-jaareindtitel te wen, met ’n volwasse eindstryd-vertoning teen Djokovic. In 2019 kon hy net een titel by sy totaal voeg.

Nou is Tsitsipas die nuutste gesalfde, en het hy die uitdaging om die “vloek” (as dit so sterk beskryf kan word) te verbreek.

’n Mens kan nie help om te voel hy sal nie.

Jonk soos hy is, spog hy reeds met seges oor Federer, Nadal én Djokovic.

Hy het begin vanjaar die halfeindronde van die Australiese Ope gehaal deur Federer se doppie in vier stelle te klink en was glo ontroosbaar nadat Nadal hom in die halfeindronde uitgeknikker het.

Die rede waarom hy alom as ’n toekomstige superster beskryf word, is die aggressiwiteit en vreesloosheid waarmee hy enige teenstander – en veral die Groot Drie – pak. Hy is beslis ’n bedreiging vir hul heerskappy.

En tog bly die Groot Drie se grootste bedreiging Vader Tyd. Alle goeie dinge kom tot ’n einde, en hierdie era sal ook. Die feit dat Nadal (nou 33), Djokovic (32) en Federer (38) steeds die voorste drie posisies op die wêreldranglys beklee en die enigste spelers is wat in die afgelope drie seisoene Slam-krone kon wen, wys hulle is nie so koud soos daardie een week in Londen voorspel nie.

Tsitsipas, Thiem, Zverev en Daniil Medvedev ís die toekoms. Maar daardie toekoms is dalk nog verder as wat hulle graag wil dink.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.