Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Stan verniel Andy by Franse Ope in Parys

Dit was toe te veel gevra van Andy Murray.

Stan Wawrinka het te veel skietgoed vir Andy Murray in hul eersteronde-kragmeting by die Franse Ope in Parys gehad.Foto: Getty Images

Die Skot het hom Sondag in sy eerste kleibaanwedstryd sedert 2017 lelik teen Stan Wawrinka van Switserland vasgeloop.

Ironies genoeg was daardie epiesekragmeting ook teen Wawrinka, maar toe in die halfeindronde van die Franse Ope.

Daar was nie sprake van wraak toe dié spelers mekaar Sondag op Roland Garros in die eerste ronde reeds gepak het nie.

Anders as in hulle marathon-stryd van vyf stelle in vier ure en 34 minute drie en ’n half jaar gelede, was alles Sondag in net 97 minute iets van die verlede.

Die 16de gekeurde Wawrinka was met 6-1, 6-3, 6-2 die wenner in ’n eensydige wedstryd.

Die 33-jarige Murray, wat as promotorskeuse genooi is, het vooraf gesê dat sy destydse kragmeting met Wawrinka die einde van sy heup beteken het.

Die 35-jarige Wawrinka (knie) moes soos Murray in die jare tussenin ook ’n paar operasies ondergaan. Hy was darem vooraf in twee kleibaantoernooie in Praag en ook in die Italiaanse Ope in aksie.

Dit was Wawrinka se vyfde sege in ses wedstryde teen Murray op klei.

Die was die eerste keer sedert 2012 op Wimbledon, toe Novak Djokovic vir Juan Carlos Ferrero geklop het, dat twee Grand Slam-kampioene in die eerste ronde van ’n Slam-toernooi slaags was. Albei is driemalige kampioene.

Die Italiaanse tiener Jannik Sinner het ’n onvergeetlike debuut op Roland Garros gehad.

Hy het die 11de gekeurde David Goffin van België met 7-5, 6-0, 6-3 in net minder as twee ure verras.

Dit was boonop die heel eerste wedstryd onder ’n toe dak in Philippe-Chatrier-stadion.

Andy Murray in aksie in sy wedstryd teen Stan Wawrinka. Foto: Getty Images

Dit was die 19-jarige Sinner se tweede agtereenvolgende sege oor die 29-jarige Goffin, wat al die sewende plek op die wêreldranglys beklee het in 2016 en die kwarteindstryd in Parys gehaal het.

Sinner, 74ste ter wêreld, het nou reeds vier van sy nege wedstryde teen top20-spelers gewen.

Nog ’n jong en opkomende speler, die 20-jarige Sebastian Korda van Amerika, het as kwalifiseerder ook ’n buiging gehad om te onthou.

Die seun van Petr Korda, ’n finalis in 1992, het Italië se Andreas Seppi met 6-2, 4-6, 6-3, 6-3 getroef.

Suid-Afrika se Kevin Anderson begin sy aanslag Maandag teen Laslo Dere van Serwië.

Onder die vroue was die voorste gekeurde Simona Halep van Roemenië agter in die eerste stel van haar wedstryd teen Sara Sorribes Tormo van Spanje.

Dit was haar eerste wedstryd teen die Spanjaard wat vroeg met 4-2 voorgeloop het.

Halep het gou tot ’n hoër rat oorgeskakel om met 6-4, 6-0 in 83 minute te wen.

Belarus se Victoria Azarenka, ’n finalis in die afgelope Amerikaanse Ope, het net meer as ’n uur benodig om Danka Kovinic van Montenegro met 6-1, 6-2 te klop.

Azarenka het vroeg in haar wedstryd uitgevaar oor die koue. Haar wedstryd is na ’n kwartier deur reën onderbreek en sy het beamptes mooi laat verstaan sy sit nie verder onder die sambreel en koud kry nie.

“Dis te koud, dis agt grade en ek bly in Florida, ek gaan nie wag nie,” het sy gesê voor sy haar binnetoe gehaas het.

Gepantser teen die koue. Victoria Azarenka van Belarus in aksie teen Danka Kovinic op die eerste dag van die Franse Ope Sondag op Roland Garros. Foto: Getty Images

Die 10de gekeurde Azarenka kom nou te staan teen Anna Karolina Schmiedlova van Slowakye, wat vir Venus Williams in haar 23ste Franse Ope en 87ste Grand Slam-toernooi met 6-4, 6-4 uitgeskakel het.

Die 40-jarige Williams het ná die tyd gesê sy sal nie weer vanjaar in aksie wees nie.

Die Russiese tiener Kamilla Rakhimova, wat as kwalifiseerder in haar eerste Grand Slam-toernooi speel, het Amerika se Shelby Rogers, wat al in die halfeindronde op Roland Garros gespeel het, verras.

Rogers het onlangs met die hervatting van spel ná die Covid-19-inperking met Serena Williams in Lexington afgereken.

Die 19-hage Rakhimova, 182ste op die wêreldranglys, het in 64 minute met 6-2, 6-3 gewen.

Die 16-jarige Amerikaner Coco Gauff het ook Sondagaand vir 'n verrassing gesorg toe sy die Brit Johanna Konta (negende gekeur) met 6-3, 6-3 getroef het.

• Bronne: atptour.com, Reuters, rolandgarros.com

Meer oor:  Simona Halep  |  Tennis  |  Franse Ope  |  Stan Wawrinka  |  Andy Murray  |  Roland Garros
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.