Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
‘Stout seun’ Fognini nou in 7de hemel

Die flambojante Italianer Fabio Fognini het sy skokoorwinning oor Rafael Nadal Sondag opgevolg met ’n sege van 6-3, 6-4 oor Dusan Lajovic in die eindstryd van die Monte Carlo-meesterstoernooi.

Dit is sy eerste Meesterstitel.

Die 31-jarige Fognini het geseëvier ten spyte van ’n spierbesering. Hy het as 13de gekeurde die laagste gekeurde speler geword om die titel te wen sedert Gustavo Kuerten in 1999.

Fognini het vyf weke voor die begin van die Franse Ope skitterende spel op Monte Carlo se rooi klei opgedis. Hy het sy 9de enkelspeltitel gewen.

“Ek het baie goed voorberei, want my voormalige afrigter (José Perlas) is nou weer in my kamp. Ek het geweet dit gaan baie moeilik wees, met baie hardloopwerk,” sê Fognini.

“Dit is ’n besondere prestasie. Ek is baie gelukkig.”

Fognini het in die halfeindronde in net twee stelle met Nadal, bekend as die Koning van Klei, afgereken.

Die Serwiër Lajovic het op sy beurt vir Daniil Medvedev geklop.

Fabio Fognini van Italië soen Sondag die trofee nadat hy die Meesterstoernooi in Monte Carlo gewen het deur die Serwiër Dusan Lajovic te klop. Foto: Reuters

Medvedev het weer met Novak Djokovic, die eerste gekeurde, in die kwarteindronde afgereken.

Dit was Lajovic se eerste verskyning in ’n eindstryd en hy sê dit was ’n goeie ondervinding.

“Dit was nie maklik nie, want die wind het gewaai. Fabio weet hoe om in sulke toestande te speel. Hy het goeie hande en beweeg regtig goed,” sê Lajovic.

Fognini het aanvanklik baie ongedwonge foute begaan en Lajovic kon in die derde pot deurbreek. Die Serwiër kon egter nie daaruit munt slaan nie en het sy afslaan in die volgende pot verloor.

Fognini het drie agtereenvolgende potte gewen en gesorg dat Lajovic sy afslaan verloor. Hy het die eerste stel gewen met ’n skitterende handrughou teen die lyn af.

Dit was die eerste keer in die toernooi dat Lajovic ’n stel verloor en hy het geskok gelyk, en sy afslaan in die eerste pot van die tweede stel verloor.

Lajovic het ’n bietjie teruggeveg, maar is later weer oorweldig en Fognini het weer deurgebreek om met 3-2 voor te loop.

Die Italianer se regterbeen is daarna verbind en Lajovic het probeer om die houeverwisselings uit te rek.

Maar Fognini was slim genoeg om ’n paar valhoutjies te speel en sy afslaan te behou vir ’n voorsprong van 4-2.

Hy het die wedstryd op sy tweede wedstrydpunt beklink.

Fognini het met ses posisies tot die 12de plek op die wêreldranglys opgeskuif – sy hoogste posisie nog.

Atptour.com berig die Italianer is net 45 minute van Monte Carlo in Sanremo gebore. Hy het as kind baie op die bane van Monte Carlo geoefen en dit voel soos sy tuistoernooi.

Fognini het lank die beeld van ’n stout seun gehad, maar sê nou sy persoonlike geluk is die rede vir sy sukses op die baan. Hy sê sy vrou, Flavia Pennetta, ’n voormalige Amerikaanse Ope-kampioen, en sy seun, Federico (2), het stabiliteit in sy lewe gebring.

“Ek het nou alles in my lewe. Ek het ’n baba, ek het ’n vrou. Hulle is altyd by my, so ek kan nie vir meer vra nie,” sê Fognini.

Hy wou nie bespiegel oor sukses in die kleibaanseisoen nie en sê Nadal is steeds die gunsteling vir die Franse Ope.

Die Barcelona Ope word vandeesweek gespeel. – Reuters

Meer oor:  Rafael Nadal  |  Fabio Fognini
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.