Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Stroop baan van Court se naam – Billie Jean
Billie Jean King / Foto: Getty Images

Die 12-malige Grand Slam-kampioen Billie Jean King het Vrydag gesê die Margaret Court-arena, een van die bane wat by die Australiese Ope gebruik word, moet hernoem word weens Court se verdelende sienings oor seksualiteit.

King se uitspraak volg op ’n berig in die New York Times vandeesweek waarin Martina Navratilova gesê het sy sou geweier het om in die Margaret Court-arena, een van Melbourne Park se vertoonbane, te speel indien sy nog ’n beroepspeler was.

Die 75-jarige Court, die rekordhouer vir die meeste Grand Slam-enkelspeltitels (24), is ’n pastoor en het ’n veldtog teen huwelike van dieselfde geslag, wat onlangs wettig geword het in Australië, gelei.

Margaret Court / Foto: Getty Images

Dié Aussie het ook verlede jaar ’n herrie veroorsaak toe sy aan ’n Christen-radiostastie gesê het transgender-kinders “is deur die duiwel gekorrupteer” en dat tennis “vol lesbiërs” is.

Die 74-jarige King, wat as speler teen Court meegeding het, het aan verslaggewers by Melbourne Park gesê dis haar persoonlike mening dat Court se naam nie meer daar moet pryk nie.

“Ek het nie ’n probleem gehad nie totdat sy onlangs soveel neerhalende dinge begin sê het . . . dít het my diep in hart en siel geraak.”

King, ’n lesbiër en aktivis vir gender-gelykheid, sê sy het destyds voorbrand gemaak dat een van Melbourne Park se belangrikste bane Court se naam moet dra, nadat die hoofbaan in 2000 na ’n ander Aussie-legende, Rod Laver, genoem is.

Maar in die lig van Court se omstrede uitlatings voel sy nou anders oor die saak.

Hoewel King, soos Navratilova, sê sy sou nie op die Court-baan gespeel het nie, sal sy nie spelers aanmoedig om wedstryde daar te boikot nie.

Die toernooi-direkteur van die Australiese Ope, die oud-Suid-Afrikaner Craig Tiley, het gesê daar was al “gesprekke” om die baan se naam te verander, maar dat daar tans geen planne is om dit te doen nie.

Die Margaret Court-arena by Melbourne Park, waar die Australiese Ope jaarliks beslis word. Foto: Getty Images

“Ons standpunt het nie verander nie. Margaret se menings is haar eie. Een persoon of organisasie kan nie eensydig oor ’n naamverandering besluit nie,” het Tiley gesê.

Court is gebruiklik een van die toeskouers op die jaar se eerste Grand Slam-toernooi, maar het besluit om dit nie vanjaar by te woon nie.

King het gesê sy sal Court se teenwoordigheid verwelkom. “Ek wens Margaret was vanjaar hier. Ons sit gewoonlik langs mekaar.” 

– Reuters

Meer oor:  Australiese Ope  |  Margaret Court
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.