Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Suid-Afrika se Lloyd skok nog ’n grote

Suid-Afrika het ’n waardige opvolger vir die veteraan Kevin Anderson en ’n speler wat nou saam met die groot honde van wêreldtennis kan blaf.

Lloyd Harris se handrughoue was van hoogstaande gehalte in sy oorwinning oor Dominic Thiem in Dubai. Foto: Getty Images

Dít het die Kapenaar Lloyd Harris onteenseglik bewys toe hy Dinsdagaand ’n skok-oorwinning behaal het oor die wêreld se nr. 4-speler en topgekeurde in die Dubai-kampioenskap, Dominic Thiem van Oostenryk.

Die 24-jarige Harris, wat moes kwalifiseer vir die hoofloting in Dubai, het Thiem eenvoudig oorweldig en ná net een uur en 13 minute met 6-3, 6-4 as wenner van die hoofbaan gestap.

Harris se afslaanwerk was uit die boonste rakke en in die 30 kere dat sy eerste dien die kol getref het, het hy 29 van die punte gewen!

Harris het boonop 23 wenhoue ingeryg op pad na sy oorwinning oor verlede jaar se Amerikaanse Ope-kampioen.

Dié Suid-Afrikaner, tans 81ste op die wêreldranglys, het met hierdie klinkende sege gewys dat sy oorwinning oor Stan Wawrinka, ’n driemalige Grand Slam-kampioen, in Katar verlede week geen gelukskoot was nie.

Dít was die eerste keer dat hy met ’n top-20-speler afgereken het, maar ná sy triomf in Dubai het hy nou ook ’n oorwinning oor ’n top-vyf-speler agter sy naam.

“Ek is baie, baie gelukkig met daardie oorwinning. Hy is verreweg die hoogste gekeurde speler wat ek al geklop het,” het Harris agterna aan die ATP-reeks se webwerf gesê.

“Domi (Thiem) is een van die spelers wat ek baie bewonder, so om hom te kon klop, is ’n ongelooflike spesiale gevoel. Die feit dat ek nou wedstryd ná wedstryd goeie spel lewer, gee my baie selfvertroue,” het Harris gesê.

Hy het in die eerste stel gewys dat hy meer as sy man kan staan met handrughou-verwisselings teen Thiem. Dit was trouens ’n dwarsbaan-wenhou op sy handrug wat hom in die eerste stel laat deurbreek het om die telling 3-1 in sy guns te maak.

In die tweede stel het hy met die telling op 3-3 deurgebreek nadat hy munt geslaan het uit twee dubbelfoute deur Thiem.

Lloyd Harris het benewens sy twee seges tot dusver in die hoofloting van die Dubai-kampioenskapsbyeenkoms twee kwalifiseringswedstryde in dié woestynstad gewen. Foto: Getty Images

In teenstelling hiermee was Harris se afslane deurgaans ’n wapen. Thiem kon nooit meer as twee punte in enige van die Kapenaar se afslaanpotte wen nie.

“Ek het rêrig goed afgeslaan en nooit enige breekpunte teen my gehad nie. Ek het my afslaanpotte goed beheer en op sy afslaan ’n paar keer deurbrake bewerkstellig. Ek is rêrig trots op hoe ek die belangrike punte gespeel het.”

Ná die groot hoogtepunt teen Thiem sal Harris nou vinnig moet fokus op sy volgende kragmeting. Hy kom Woensdagmiddag teen die 14de gekeurde Filip Krajinovic te staan. ’n Plek in die kwarteindronde is op die spel.

Harris en dié Serwiër het nog nooit teen mekaar gespeel nie.

Meer oor:  Kevin Anderson  |  Tennis  |  Lloyd Harris  |  Dominic Thiem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.