Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tennis
Thiem hoop om ritme gou terug te hê

Dominic Thiem, wenner van verlede jaar se Amerikaanse Ope, se voorbereiding en opmars na die Franse Ope in Parys was allermins gepas.

Hy is vandeesweek in Lyon in sy eerste wedstryd deur die Brit Cameron Norrie uitgeskakel.

Dominic Thiem kan nie verstaan waarom sy spelpeil die laaste paar weke agteruit gegaan het nie. Foto: Getty Images

Dit laat hom nie net met min speeltyd op klei nie, sy selfvertroue is ook nie wat dit moet wees nie aan die vooraand van die skouspel op Roland Garros, wat op 30 Mei begin.

Die Oostenryker, ’n finalis in twee agtereenvolgende jare – 2018 en 2019 – in die Franse hoofstad, was vroeër ook twee maande lank uit aksie.

Thiem (27), vierde op die wêreldranglys, het ná ’n voetbesering sy terugkeer gemaak op die onlangse Madrid-Ope. Hy het daar ’n bemoedigende lopie tot in die halfeindronde beleef, maar is in die daaropvolgende toernooi in Rome in die derde ronde uitgeskakel.

Hy het toe as promotorskeuse in Lyon gaan speel in ’n poging om nog wedstryde op sy kerfstok te kry.

“Dit was ’n groot teleurstelling. Dis ’n hengse tree agteruit ná die belowende toernooie wat ek in Madrid en Rome gehad het,” sê Thiem.

Norrie, 49ste op die wêreldranglys, was sommer maklik met 6-3, 6-2 aan die wenkant.

Ek moet op die een of ander manier my weg terug vind.
Dominic Thiem

Thiem vind dit onverklaarbaar.

“Ek weet nie regtig hoekom nie. Ek was goed voorbereid hier, ek het goed geoefen, maar kon net nie my ritme vind nie.

“Ek het gehoop om voort te bou op van die positiewe aspekte in Madrid en Rome, maar dit het nie uitgewerk nie. Ek sal sake nou moet gaan ontleed met die oog op Roland Garros.”

Thiem sukkel vanjaar ná die goeie seisoen wat hy in 2020 gehad het, wat sy eerste Grand Slam-titel in New York insluit.

Hy het een van sy twee wedstryde in die toernooi om die ATP-beker in Australië gewen en toe die vierde ronde in die Australiese Ope gehaal.

Hy het tot in die kwarteindronde in Doha gevorder waarna Suid-Afrika se Lloyd Harris hom in die eerste ronde in Dubai geskok het.

Thiem sê vandeesweek se nederlaag is nie goed vir sy selfvertroue nie.

“Ek is ná my terugkeer in Madrid al ’n rukkie aan die gang en het nie verwag om so teen Norrie te speel nie. Ek was al in ’n klompie wedstryde en het gehoop om goeie tennis te speel.

“Ek moet op die een of ander manier my weg terug vind. My volgende wedstryd is reeds die eerste ronde op Roland Garros en ek hoop om dit voor dan uitgesorteer te hê.” – Reuters

Meer oor:  Tennis  |  Dominic Thiem  |  Oostenryk  |  Roland Garros
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.